Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Boland-baas by SA Rugby verkla ná tirade oor ras

Die president van die Boland Rugbyunie (BRU), Ivan Pekeur, is weer in die spervuur nadat die vakbond Sport Employees Unite (SEU) hom by SA Rugby aangekla het omdat hy na bewering rugby se gedragskode oortree het.

Boonop is rugbyklubs in die Boland in opstand teen hom nadat hy die week in ’n skrywe alle vriendskaplike klubwedstryde voor 15 Februarie in die unie verbied het sonder om enige redes te verskaf.

Ivan Pekeur
Ivan Pekeur, die BRU-president.

Verskeie klubs het reeds uitgawes aangegaan vir die voorseisoenwedstryde. 75 vriendskaplike wedstryde moet glo nou gekanselleer word.

Die klagte wat teen Pekeur by SA Rugby ingedien is, spruit uit ’n WhatsApp-boodskap wat hy aan Rapport se verslaggewer gestuur het en wat verlede week in die koerant verskyn het. Daarin beweer hy daar is ’n rasseveldtog teen hom.

Dit lui: “Hi . . . ek weet nou waarom jy my so swartsmeer in jou koerant . . . ek is mos ’n Swartman en jy en Cassie is Witmanne. . . Piet Heymans is ’n Witman en jou informant is ’n Witman . . . so die uitslag is klaar bepaal . . . hoe kan ’n stomme Bruinman nou teen julle Wittes wen . . . maar nie eers dit sal my onderkry nie . . . ek sal met alles wat ek het terugbaklei teen hierdie Wit dominansie wat jy op ’n ander manier gestalte wil gee.”

SEU het die week ’n skrywe aan SA Rugby gerig waarin kapsie gemaak word teen Pekeur se boodskap en sê die beheerliggaam moet hom ondersoek omdat hy glo SA Rugby se gedragskode oortree het. In die skrywe, gerig aan Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, word beweer dat Pekeur klousules 2.12, 2.22 en 2.26 van die gedragskode oortree het.

Klousule 2.12 hou verband daarmee dat geen liggaam of persoon “iets sal doen wat sal intimideer, aanstoot gee, beledig, verneder of diskrimineer teen enige persoon op grond van geloof, kleur, nasionale of etniese oorspring, geslag of politieke siening nie.”

Klousule 2.22 maak dit duidelik dat rugbyliggame of persone nie gedrag mag openbaar wat SA Rugby of sy affiliasies of die spel in oneer bring nie.

Luidens klousule 2.26 mag geen liggaam of persoon “verantwoordelik wees vir enige vorm van diskriminasie op grond van ras, geslag, kleur, geloof, politieke uitkyk of nasionale of etniese oorspring nie”.

“Meneer Pekeur is ’n verteenwoordiger van Boland in Saru-strukture en gevolglik is hy gebonde aan die gedragskode van Saru,” het SEU se uitvoerende hoof, Piet Heymans, by navraag aan Rapport gesê.

Pekeur het die afgelope week ook ’n bloutjie by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geloop, nadat die BRU se voormalige uitvoerende hoof, Cassie Carstens, en ’n gewese ontwikkelingsbestuurder, Cliffie Booysen, die kommissie met arbeidsgeskille genader het.

Rapport verneem in Booysen se saak is ’n skikking bereik, wat glo behels dat hy vir die volle termyn van sy kontrak uitbetaal moet word. Carstens het na verneem word ’n skikkingsaanbod verwerp en sy saak is vir arbitrasie verwys. Heymans het by navraag gesê die besonderhede van Booysen se skikking is “hoogs vertroulik”.

SEU het egter nóg ’n arbeidsdispuut met die BRU omdat 13de tjeks nie in Desember aan personeel betaal is nie, hoewel belasting daarop afgetrek is. Volgens Heymans gaan hulle die KVBA vandeesweek in dié verband nader “om toe te sien dat werkers se regte beskerm word”.

Pekeur het by navraag oor dié kwessies per e-pos laat weet hy het geen kommentaar nie. Hy is wel op rekord waar hy in ’n vorige navraag oor die arbeidskwessies teenoor Rapport gesê het: “Piet Heymans en sy vakbondjie moet maar kom, ons vra hom niks en skuld hom niks.”

Meer oor:  Sa Rugby  |  Ivan Pekeur  |  Aangekla  |  President  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.