Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Boland se skeidsregter-base moet ry

Die Boland Rugbyunie (BRU) het die ganse bestuur van sy skeidsregtervereniging die trekpas gegee.

Ivan Pekeur, president van die BRU, het dié drastiese stap Donderdagaand aan Netwerk24 bevestig nadat die skeidsregtersvereniging – ’n subkomitee van die unie – met ’n staking gedreig het.

Ivan Pekeur, president van die Boland Rugbyunie.Foto: Argief

Dít het gevolg nadat die skeidsregter Curtley Booysen in verlede naweek se wedstryd tussen Robertson Town en Roses United deurgeloop het onder aggressiewe Robertson-ondersteuners.

Pekeur meen egter die skeidsregtersvereniging se optrede is ongeregverdig gegewe hoe ferm die BRU in die algemeen optree. Hy het Netwerk24 voorsien met ’n lys van strawwe wat al aan oortreders opgelê is in die unie. Dit wissel van boetes tot lewenslange skorsings. ’n Verhoor oor die voorval in Robertson word op 10 Oktober gehou.

’n Staking sou ’n ernstige bedreiging vir die Bolandklubligas se halfeindstryde, wat volgende naweek gespeel gaan word, ingehou het.

“Ons het nie die skeidsregters in die pad gesteek nie, maar wel die opstokers, die bestuur van die skeidsregters. Hulle het beplan om die unie te saboteer deur skeidsregters op te stook om nie die Top12-halfeindstryde en eindstryde te blaas nie, maar te staak,” het Pekeur in ’n teksboodskap gesê.

“In die Boland het ons nie tyd vir belaglikhede soos stakings nie. Skeidsregters weet wat hul werk is en die unie ondersteun hulle. Die skeidsregters se bestuur is ’n klomp moedswillige mense, wat nie in rugby hoort nie. Daarom is hulle in die pad gesteek en ons het rugbymense wat gereed staan om die vereniging vorentoe te neem.”

Roslyn Fortuin, voorsitter van die skeidsregtersvereniging, wou nie kommentaar lewer nie.

Dit blyk egter uit korrespondensie wat Netwerk24 onder oë gehad het dat die skeidsregtersvereniging nie ’n mandaat van blasers gehad het om met só ’n drastiese stap te dreig nie.

Pekeur gaan die skeidsregters Dinsdagaand in Wellington toespreek.

* Intussen is daar ook aan Netwerk24 bevestig dat die Maties se rugbyklub nie by die Boland ingelyf gaan word nie. Volgens Suid-Afrika se rugbygrense is die Maties in die Westelike Provinsie, maar ’n moontlike skuif na die Boland steek elke nou en dan kop uit omdat Stellenbosch geografies in die Boland is.

Dit was die afgelope paar maande wéér die geval en was selfs ’n agendapunt vir ’n spesiale algemene vergadering van die BRU wat op 29 Augustus in Wellington gehou is.

Professor Mohammad Karaan, president van die Maties-rugbyklub, het egter in ’n boodskap aan Netwerk24 gesê die klub “sal in die WP bly”.

Hy het wel ’n hand van vriendskap aan die Boland uitgesteek. “Omdat ons in die Boland geleë is, sal ons graag meer met Boland wil saamwerk met betrekking tot rugby-ontwikkeling,” het hy gesê.

Daar is sprake dat die Boland die Maties se tuisveld, die Danie Craven-stadion, vir tuiswedstryde wil gebruik.

Volgens prof. Karaan is daar “geen formele ooreenkoms” in daardie verband nie. “Dit mag wel moontlik wees,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Ivan Pekeur  |  Boland Rugbyunie  |  Skeidsregters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.