Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die groot leuen: Bokke brutaal ontmasker!
Spelers bloei ná riller, sê verslae breier

Allister Coetzee het die eerste 20 minute van die Springbokke se ontnugterende nederlaag Saterdag teen die All Blacks met ’n “riller-moevie” vergelyk.

’n Verslae Eben Etzebeth, Bok-kaptein, ná sy span se liederlike loesing teen die All Blacks. Foto: Getty

“Die spelers bloei,” het ’n erg verslae Coetzee ná die verpletterende Bok-nederlaag met 0-57 gesê – die grootste slae nóg in die geskiedenis van Bok-rugby.

Die Bokke het hul vorige grootste nederlaag in November 2002 teen Engeland op Twickenham gely. Die telling was 53-3. 

Rugbykenners het Saterdag ewe geskok op die yslike nederlaag gereageer.

Hennie le Roux, die Bok-losskakel van Francois Pienaar se Wêreldbeker-kampioenspan van 1995, het gesê: “Ons lynstane was skrikwekkend swak.” Hy vra ook waar die leiding was toe die Bokke se lynstaaningooie onder druk gekom het.

Jaque Fourie, oudsenter van die Bokke wat in 2007 die Wêreldbeker gewen het, het gesê vir hom as Bok maak die nederlaag baie seer. “ ’n Groot probleem was ons vaste fasette. Skrums en lynstane was nog altyd ’n sterk wapen vir die Bokke, maar Saterdag het ons in albei swak gevaar.”

Errol Tobias, oudlosskakel van die Bokke, het prontuit gesê dit was die swakste voorspelerspel wat hy nóg deur ’n Springbok-agttal gesien het. 

Alan Zondagh, oud-skrumskakel van die WP en voormalige direkteur van rugby by Saracens en die Boland-Kavaliers, sê om die All Blacks te klop, moet jy op ’n manier beter speel met die bal in die hand, want jy gaan nie die All Blacks klop met strafskoppe of rolmaalbewegings nie.

“Jy gaan nie met ’n konserwatiewe wedstrydplan hulle klop nie. Jy kan skop en goed verdedig, goed skrum en goed lynstane uitvoer, maar aan die einde van die dag moet jy oor die doellyn kom. Dis waar Suid-Afrika tekort skiet,” het Zondagh gesê.

Franco Smith, Brendan Venter en Allister Coetzee.

Die voormalige Springbok-skrumskakel Werner Swanepoel sê dié ontnugtering noodsaak ’n mens om te vra of die Springbokke sedert verlede jaar enige vordering gemaak het en of die vyf wenne vanjaar nie maar is omdat die ander toetslande so sleg is nie. “Ek dink nou spesifiek aan Frankryk en Argentinië. Ons almal het geweet daar is ’n groot verskil tussen die All Blacks en die res van die wêreld. Dit gaan interessant wees om te sien wat Nieu-Seeland aan Engeland gaan doen. 

“Maar ja, dis ’n hartseerdag vir Suid-Afrikaanse rugby. As ons kyk na die vertoning – ’n rekord-telling – het dit amper gelyk soos ’n senior span wat teen ’n spul juniors speel. Die All Blacks kon maak wat hulle wou met ons.”

Die Springbok-kaptein, Eben Etzebeth, het op sy beurt gesê dat dinge nie so kan aangaan nie. Hy het die groot nederlaag as ’n yslike teleurstelling beskryf.

“Ons is baie teleurgesteld. Ek het egter steeds geloof in die spelers en afrigtingspan.”

Coetzee was self platgeslaan ná die onverwagte rekordnederlaag nadat sy span nog vooraf onoorwonne in 2017 was. 

“Daardie eerste 20 minute was soos ’n riller-moewie,” het die Bok-afrigter gesê. 

“Die All Blacks het terselfdertyd gewys dat hulle ’n span van gehalte is. Hulle het gewys waarom hulle die beste is.”

Coetzee het sy span se uitvoering en die vaste fasette as die vernaamste redes uitgewys vir die nederlaag. “Daar was tye dat ons goed aangeval het, maar ons kon hulle net nie breek nie. Die groot probleem was ons vaste fasette. Dít was voor die toets ons sterkpunt die seisoen. Ons sal daarna moet kyk.”

“Daardie eerste 20 minute was soos ’n riller-moewie
Allister Coetzee

Die Bok-afrigter het agterna die spel van sy agterste driehoek – Andries Coetzee, Raymond Rhule en Courtnall Skosan – verdedig. 

“Ek dink nie die agterste driehoek was vanaand die probleem nie. Ek het byvoorbeeld gedink Andries Coetzee was uitstaande. Ons het wel hier en daar flaters gemaak.”

Hy sê ook dat dit nie ’n geval was dat die spelers nie probeer het nie. 

“Ons het in die eerste helfte balbesit gehad en dit het gevoel of ons die fisieke botsings oorheers het. Die spring van die bal was vanaand aan hul kant.”

Tobias was nog een van die oudspelers wat die leierskap van die Bokspan bevraagteken. 

“Ek kry ook vir Etzebeth baie jammer. Hy bereik nou eers wasdom as speler en die kapteinskap is moord op hom. 

“Neem byvoorbeeld ons lynstane. Ons bly diep ingooi en balle verloor. Hier moes Eben as kaptein sy hand opgesteek het, maar hy is te jonk en onervare.”

Theuns Stofberg, ’n voormalige Springbok-kaptein, het gesê die Bokke speel beslis ’n beter spelpatroon as verlede jaar hierdie tyd. 

“Ons moet net onthou ons het Saterdag teen ’n absoluut briljante span gespeel. 

“Ons lynstane was ’n geweldige probleem. Ons is vol toertjies pleks daarvan dat ons eenvoudig ons besit beveilig. Dit moet tog die eerste prioriteit wees? 

“Die ewige skoppery steek my ook dwars in die krop. As jy teen die All Blacks doelloos skop, gaan daai agterste drie van hulle jou bêre.”

Volgens die oud-Bok-haker Charl Marais was die eerste paar skrums en lynstane goed, maar die wiele het toe begin afkom.

“As jy nie daardie fasette onder beheer het nie, sal ’n wedstryd altyd moeilik wees om te wen.”

Hy sê ook dat die All Blacks weet hoe om hul kanse op die aanval te benut en punte aan te teken.

“Hulle kry 10 kanse en teken punte aan met nege uit die 10. Ons kry net soveel kanse, maar as ons gelukkig is, teken ons een keer punte aan. Dit was wreed om na die wedstryd te kyk. Ons het in die vaste fasette gesukkel.”

Swys de Bruin, afrigter van die Leeus, se raad aan die Bokke is om so gou moontlik die nederlaag uit hul koppe te kry. “Dit maak seer, maar ons moet so gou moontlik hierdie wedstryd uit ons koppe kry. Ons kan niks aan Saterdag se uitslag en vertoning doen nie. Ons kan wel nou die Aussies klop.”

– Bykomende beriggewing deur Leighton Koopman en Hendrik Hancke 

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.