Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bond, Bantu en Idi se groot liefde vir rugby

“En dis Idi Amin wat die bal in die losskrum wen en hy gee dit uit na James Bond, en James Bond laat loop na Bantu Holomisa en Holomisa hol en hy hol en hy duik oor die doellyn vir ’n pragdrie!”

Idi Amin het graag aan almal wat wou luister vertel dat hy ’n briljante rugbyspeler was. Foto: Getty Images

As ’n rugbyspan wat uit beroemde mense wat groot rugbyondersteuners was, of steeds is, gekies kon word, sou so ’n drie dalk deur radio-kommentators beskryf kon word.

Dis nie net ons gewone sterflinge wat mal is oor rugby nie. Daar is baie bekende mense wat nie skaam is om hul liefde vir die spel in die openbaar te verklaar nie.

Vat nou maar vir Idi Amin, wat die bal daar in die eerste paragraaf in die losskrum gewen het.

Big Daddy, soos Uganda se eertydse diktator ook bekend gestaan het, was baie lief vir rugby. En vir boks.

Die akteurs Javier Bardem en Daniel Craig deel ’n liefde vir rugby. Foto: Getty Images

Hoe goed hy regtig was, is debatteerbaar. As hy in ’n rugbywedstryd gespeel het terwyl hy staatshoof was en jy het dit gewaag om hom te duik, sou jy waarskynlik voor ’n vuurpeloton beland het.

Big Daddy self het gedink hy was baie goed. En hy was nie skaam om vir almal te vertel hoe goed hy nou eintlik was nie.

“Soos julle weet, is ek ’n rugbyspeler. Ek is ’n slot, so ek weet hoe om te skrum. Ek is baie groot. Jy wil nie teen my skrum nie. En ek kan ook vleuel speel, ek is baie vinnig. Ek kan die 100 meter in 9.5 sekondes hardloop. As jy my duik, of my probeer duik, gaan jy net jouself seermaak,” het hy op ’n keer gespog.

Mense wat Boris Johnson, Brittanje se eerste minister, probeer lak, kry ook gewoonlik seer. Vra maar net die 10-jarige seuntjie wat in 2015 in Tokio deur die deurmekaarhaar-politikus in ’n speelse wedstryd onderstebo geloop is.

Boris, wat in sy jong dae ’n vuurvreter-slot vir Eton College was, het vergeet dis veronderstel om raakrugby te wees. Hy het soos ’n gewonde renoster op die seuntjie afgestorm en hom geskouer dat die kranse antwoord gee.

Boris het ook al op ’n keer ’n teenstander in ’n sokkerwedstryd met ’n plettervat bymekaargemaak.

Boris is nogal soos Nelson Mandela wanneer dit by rugby kom. Hy stuur ook, nes Mandela destyds gedoen het, gereeld motiverende boodskappe vir sy gunstelingspan.

Dié span, Engeland, vaar op die oomblik nie baie goed nie. Dalk moet Boris ophou om vir hulle boodskappe te stuur.

Boris Johnson maak vrede met die Japannese seun wat hy in ’n rugby-stormloop onderstebo geloop het. Foto: Getty Images

Die voormalige Engelse haker Brian Moore het Boris juis al laat weet hy moet “f****”.

Boris het ’n tyd gelede sy mond uitgespoel toe iemand voorgestel het dat die lied “Swing Low, Sweet Chariot” nie meer by Engeland se wedstryde gespeel moet word nie omdat dit glo uit rassisme gebore is.

“Voor ons oor Swing Low, Sweet Chariot begin kla, sal ek daarvan hou om te weet wat die res van die woorde is. Jy sing: ‘Swing Low, Sweet chariot, coming for to carry me home’ en dan sterf alles weg. Hoe gaan die lied verder?” wou Boris weet terwyl hy sy ogies geknip-knip het.

Bantu Holomisa, die president van die Verenigde Demokratiese Beweging (UDM), is nie skaam om te erken dat hy die braai voor ’n wedstryd eintlik die meeste geniet nie.

“Ek het vleuel of heelagter gespeel, en nou en dan losskakel. Maar ek het nie daarvan gehou om geduik te word nie,” het Holomisa al vertel.

Hy het sy talente onder andere vir die Orientals-klub in Umtata en die ou Transkei se Weermagspan uitgestal.

Deesdae is hy ’n groot Blou Bul-ondersteuner, maar hy sê sy grootste rugbyheld van alle tye is die voormalige Springbok- en WP-skrumskakel Divan Serfontein.

Die akteurs Daniel Craig en Javier Bardem het daar in 2011 rond omtrent bloedbroers geword toe hulle besef het hulle is altwee rugbymal. Hulle het in daardie stadium aan die James Bond-fliek “Skyfall” gewerk.

Craig was glo in sy jonger dae ’n knap losskakel en is ook nie skaam om by Engeland se kleedkamer in te loer ná wedstryde nie.

Bantu Holomisa (middel) het al met rugby-legendes soos Frik du Preez (links) en Morné du Plessis skouers geskuur. Foto: Gallo Images

Dis dan tog interessant dat twee van dié Engelsman se drie grootste rugbyhelde Iere is. Brian O’Driscoll en Johnny Sexton se spel het hom glo nog altyd opgewonde gemaak en vir die Engelse losskakel Jonny Wilkinson het hy ook ’n sagte plekkie.

Bardem was goed genoeg om vir Spanje se o.18-span flank te speel. As hy hom nie op sy toneelspel toegespits het nie, kon hy dalk ook sy land op senior vlak verteenwoordig het.

“Ek dink ’n spansport is noodsaaklik vir ’n kind, dit leer jou die waarde van om deel te wees van ’n groep. Dit is baie goed in die sin dat dit jou laat verstaan dat jy alleen nie so belangrik is nie. Omdat ek vir so lank rugby gespeel het, het ek maklik by filmspanne ingskakel,” het Bardem, wat in die fliek “No Country for Old Men” ’n baie oortuigende moordenaar gespeel het, al gesê.

Die plaaslike akteur en komediant Rob van Vuuren hou nie net van rugby nie.

“Ek is liéf vir rugby. Ernstig, ek is flippen lief daarvoor. Ek dink dis die beste sport wat daar is en ek is lief om dit te speel. Ek herspeel aanhoudend oomblikke in rugbywedstryde wat ek in my lewe gespeel het in my eie brein,” vertel Rob in die boek “Rugby in our Blood”.

Rob het as kind al geleer dat hy nie sy pa kan vertrou wanneer dit by rugby kom nie.

Rob van Vuuren (naasregs) was in 2010 een van die Blitsbokke se “ambassadeurs” gewees. Van links is Paul Treu, Steve G, Rob en Kyle Brown. Foto: Gallo Images

Sy pa was op ’n keer die grensregter van ’n wedstryd waarin Rob gespeel het. Skielik het ’n groot ou weggebreek en reg op Rob afgestorm.

Rob se pa het omtrent die Peter Stuyvesant waaraan hy gesuig het ingesluk: “Duik hom laag! Om die enkels! Jy sal nie seerkry nie, ek belowe!” het sy pa glo tussen rookwolke deur geskree.

Rob het so gemaak . . . net om ’n paar oomblikke later al huilend te kerm: “Jy het gejok, Pa! Dis baie seer!”

Dis nie waar Rob se rugbypyne opgehou het nie. Hy het later vir Rhodes se o.21 A-span gespeel.

“Ons het baie verloor en ons is baie keer dik gemoer – veral wanneer ons teen PE Polisie of Despatch gespeel het!” onthou Rob.

Bronne: Rugby in Our Blood – Angus Powers (redakteur); ruck.co.uk; nzherald.co.nz; mirror.co.uk; elmasmit.co.za; uk.askmen.com; espn.co.uk.

* Kyk hier hoe loop Boris Johnson ’n 10-jarige seun onderstebo in ’n speel-speel rugbywedstryd:

Meer oor:  Bantu Holomisa  |  Boris John­Son  |  Daniel Craig  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.