Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bongi in wolke oor Haaie hom wil slyp

Die Haaie se bereidwilligheid om in hul spelers se lewe ná rugby te belê, het die deurslag gegee in Bongi Mbonambi se besluit om die Kaap vir Durban te verruil.

Meer as net ’n rugbyspeler . . . Bongi Mbonambi. Foto: Gallo Images

Die 30-jarige Springbok-haker sal in Durban met die hulp van die Haaie ’n vastrapplek in die sakewêreld kry.

“Ek het die besluit om na die Haaie te gaan, nie alleen geneem nie,” het Mbonambi gesê.

“Ek het ’n gesin om te versorg. Die lewe ná rugby was baie belangrik.

“Ek is geseënd dat ek my eie onderneming genaamd BM2 Concrete in Durban kan begin.

“My agent (Gert van der Merwe) is my vennoot. Hy het sy eie maatskappy Titan­crete in Pretoria. Ons werk baie goed saam.

“Ons werk al van verlede jaar af saam en werk nou saam om suksesvol in Durban te wees.

“Een van die belangrikste redes waarom ek na die Haaie is, is omdat hulle spelers bemagtig vir die lewe ná rugby.”

Mbonambi prys die Haaie vir die rigting wat hulle inslaan deur hul spelers op en van die veld af geleenthede te gee.

“Ons almal begin aan die lewe ná rugby dink as jy ouer raak. Dit was daarom vir my ’n groot geleentheid om na Durban te trek sodat ek daarna kon kyk.

“Uiteraard word ek ’n salaris betaal om rugby te speel en wil ek my energie op die veld gee. Ek wil ’n bydrae maak dat die Haaie op ’n hoër vlak kan meeding.

“Ek besef goed ek is vir eers in Durban om rugby te speel en daarna om die geleentheid van die veld af te benut.”

Hy is so opgewonde oor die nuwe uitdaging dat hy en sy gesin al die naweek in Durban was, waar hulle na huise begin kyk het.

Die kans om in Durban die sakewêreld te betree, het ook ’n rol gespeel daarin dat die oudleerling van St. Alban’s College nie oorsee is nie. Mbonambi het verskeie oorsese aanbiedinge ná die Bokke se sukses in 2019 se Wêreldbekertoernooi gekry.

“Ek is geseënd dat ek oorsese aanbiedinge gekry het.

“Ons het egter besluit die tyd is nie reg nie. Ek wil ’n nuwe begin in Durban maak en ek wou nie my plek (in die Bok-span) verloor nie.

“Deur te bly, wys ek my passie vir die land. Ek is baie dankbaar oor die geleenthede by die Haaie en om herinneringe hier te maak.”

Hy is terselfdertyd dankbaar vir die speelkans wat hy in die Kaap gekry het sedert hy hom in 2015 daar ná sy speeldae by die Bulle aangesluit het.

Sy aandag is nou ten volle op die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gerig.

En al was hy in 2019, toe die Bokke die laaste keer toetsrugby gespeel het, die land se voorste haker, meen Mbonambi dis onregverdig om steeds daardie kenteken om sy nek te hang.

Meer oor:  Haaie  |  Durban  |  Bongi Mbonambi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.