Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Booi het glo nie aansoek gedoen vir pos

Die rugbyspan van die Oostelike Provinsie sal beslis volgende jaar ’n nuwe afrigter hê, want die huidige afrigter, Chumani Booi, het nie weer aansoek gedoen vir die pos nie.

Chumani Booi is glo nie weer beskikbaar om die OP af te rig nie. Foto: Gallo Images

Die OP Rugbyunie is besig om ’n kortlys op te stel waaruit die nuwe afrigter gekies sal word.

Daar is aanvanklik gedink die 40-jarige Booi sou ook weer sy naam in die hoed gegooi het, maar ’n onberispelike bron het bevestig dat hy dit nie gedoen het nie.

Booi is nog tot einde Desember by die OPRU gekontrakteer en was nie beskikbaar om met die media te praat nie.

Die OPRU is ook nie bereid om in hierdie stadium oor die kandidate vir die pos te bespiegel nie.

Daar is oor die naweek gegis dat bekendes soos Peter de Villiers, die gewese Springbok-afrigter, Deon Kayser, ’n oud-Bok, en Jonathan Mokuena, voormalige Blitsbok-kaptein, in die pos belangstel.

Ricardo Loubscher, gewese Bok-hulpafrigter, het ook aan Netwerk24 bevestig dat hy sy naam in die hoed wil gooi.

Vir kontinuïteitsonthalwe is dit dalk jammer dat Booi nie weer die OP gaan afrig nie.

Hy het die werk onder moeilike omstandighede gedoen en was baie gewild onder die meeste spelers.

Toe hy as afrigter oorgeneem het, was die OP teen die planke. Die span kon in twee jaar nie eens ’n wedstryd wen nie.

Met Booi as afrigter het die OP verlede jaar die halfeindronde van die Eersteliga-reeks gehaal.

Hy het in 2004 as hulpafrigter by die Grens-Bulldogs begin, waar hy toekomstige sterre soos die Springbokke se Wêreldbeker-vleuel Makazole Mapimpi afgerig het.

In dieselfde tyd was hy ook ’n konsultant vir die Walter Sisulu-Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie se span.

Booi was ook ’n tyd lank die Southern Kings se agterlyn-afrigter en hy was in 2016 ’n hulpafrigter van die SA A-span.

Hy was in sy jonger dae ’n veelsydige agterspeler, wat meer as 100 wedstryde vir die Bulldogs gespeel het.

Hy het ook vir die Stormers, Haaie, Cats, Griekwas en die Pumas uitgedraf.

Meer oor:  Opru  |  Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.