
Marco Bortolami toe hy nog vir Italië gespeel het. Foto: Getty Images
Marco Bortolami, ’n voormalige kaptein van Italië se rugbyspan, word in Junie Benetton Treviso se nuwe afrigter.
Bortolami (40), sedert sy uittrede as speler in 2016 Benetton se lynstaan-afrigter, se kontrak as hoofafrigter is vir drie jaar.
Hy vervang die voormalige All Black-heelagter Kieran Crowley, wie se kontrak ’n jaar voor dit sou verstryk het, kortgeknip word.
Crowley, wat voorheen ook die Kanadese nasionale span afgerig het, het Benetton vir vyf en ’n half jaar afgerig.
“Die ervaring wat hy (Bortolomi) die laaste vyf seisoene as hulpafrigter opgedoen het, het hom gehelp om die dinamika van die span perfek te leer ken,” sê Amerino Zatta, die klub se president, in ’n verklaring.
Bortolomi, ’n voormalige Zebre-slot, het 112 keer vir Italië gespeel. – Reuters