Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Inperking: Braam hou ‘sabbatsverlof’

In Italië is daar ’n voormalige rugbyspeler van Suid-Afrika wat besluit het basta met kerm oor die staat van inperking, dit is die ideale tyd om as’t ware sabbatsverlof te neem en oor sy lewe na te dink.

Braam Steyn (27), ’n losvoorspeler wat die Junior Bokke in 2012 verteenwoordig en toe groener weivelde oorsee gaan soek het, is woonagtig in Treviso se stadskern.

Italië is een van die lande wat die ergste deur die Covid-19-pandemie getref is, met meer as 17 000 mense wat reeds daar weens die virussiekte dood is.

Italië se Braam Steyn bemeester ’n lynstaanbal in ’n kragmeting in die Sesnasies-reeks vroeër vanjaar teen Frankryk in Parys. Foto: Getty Images

“Dit gaan goed, ek moet sê dit wat ons hier beleef, begin al soos normaal te voel. Vir my is dit egter ’n goeie tyd, ek gebruik dit as ’n soort sabbatsverlof, waar ek asem kan haal en van al die klein skete wat ek het, kan herstel.

“Ook kan ek nadink oor waar ek my in die lewe bevind. Ons word so maklik op loop geneem met dinge in die lewe wat nie regtig belangrik is nie. Ek kry nou die geleentheid om ’n roetine te vestig van dit wat vir my belangrik is, sodat as dinge na normaal terugkeer, ek so kan lewe,” sê Steyn, wat gereeld vir sy aangenome land se nasionale span uitdraf.

“Die maatreëls hier is baie streng en jy word met €400 (bykans R8 000) beboet as jy sonder ’n geldige rede op straat is.

“Maar dit is goed, want ons gee ook die heelal die geleentheid om ’n blaaskans te neem. Daar is byvoorbeeld weer visse in die Venesiese kanale, iets wat daar gewoonlik nie is nie,” se hy.

Vir baie rugbyondersteuners voel dit tans of daar nooit weer rugby gespeel gaan word nie, maar Steyn glo dit sal wel gebeur.

“Ek persoonlik dink dinge gaan na ’n kant toe. Maar ons moet ook aanvaar dat lande se statusse ten opsigte van die virus verskil.

“Die kompetisies waaraan ons deelneem is, is omtrent almal tussen spanne van verskillende lande, so dinge gaan in al die lande moet verbeter voordat daar weer gespeel kan word. Ons hier in Italië gaan wel waarskynlik die blinkkant vinniger as ander lande sien,” sê Steyn.

Daar, in Treviso se stadskern, kry hy ook die geleentheid om hom darem met ’n eg Suid-Afrikaanse tydverdryf besig te hou.

“Ek kan darem ander mense op hul balkonne sien en hoewel ’n mens nie interaksie met mekaar het nie, voel dit darem ook nie of jy alleen is nie. En ek braai darem ook minstens so twee of drie keer per week hier op my balkon.”

Meer oor:  Treviso  |  Koronavirus  |  Pro14  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.