Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Braam se huiswerk hou Kings skerp

Brandon Thomson sal beslis ’n aanwins vir die Southern Kings wees en hy sal daarvan hou om weer saam met hom te werk.

Brandon Thomson (met die bal) het in 2017 vir die Glasgow Warriors gaan speel nadat hy ook vir die Stormers en die Westelike Provinsie uitgedraf het. Dit klink of die Kings in sy dienste belangstel. Foto: Getty Images

So sê Braam van Straaten, die Oos-Kapenaars se skop- en verdedigingsafrigter, oor die sprake wat al ’n geruime tyd die rondte doen dat die Kings in Thomson, ’n gewese Stormer wat laas nog vir die Glasgow Warriors in Skotland gespeel het, se dienste belangstel.

Met Demetri Catrakilis se kontrak wat teen die einde van die maand verval, is die kans dalk nou nog groter dat die Kings aan die 25-jarige Thomson ’n aanbod kan maak.

“Ek het al met hom gewerk toe hy nog op hoërskool (Ermelo) was. Hy is ’n goeie speler, ’n goeie skopper en hy het nou baie goeie ervaring oorsee opgedoen,” sê Van Straaten.

Van Straaten waarsku dat die losskakels by die Kings in Catrakilis se afwesigheid sal moet uithaal en wys wanneer daar weer eindelik rugby gespeel kan word.

Voor die verspreiding van die koronavirus die huidige seisoen tot stilstand gedwing het, het ’n paar spelers speelkans gekry wanneer Catrakilis beseer was.

Van hulle, soos Siya Masuku, Bader Pretorius en Tiaan Botes, het volgens Van Straaten goeie vordering getoon.

JT Jackson is ook in ’n stadium van senter na losskakel geskuif en het heel goed gevaar.

Braam van Straaten, die Kings se skop- en verdedigingsafrigter. Foto: Gallo Images

Gedurende die inperkings is dit nie juis moontlik om skopwerk te oefen nie, maar dis volgens Van Straaten nie ’n groot kopseer nie.

“In voorseisoense oefeninge word daar in elk geval op fiksheid en krag gefokus. As jy regtig hard werk in ’n hardloopsessie of in die gim, is dit ook beter as jy vir minstens 36 uur glad nie skop nie, want jy kan jou senuweestelsel skade berokken,” sê die oud-Springbok.

Van Straaten sê as skoppers volgens sy metodes hul skopwerk oefen, kan hulle binne drie sessies weer akkuraat skop.

Van Straaten gee die Kings ook huiswerk wat verdediging betref.

“Ons vat byvoorbeeld twee wedstryde en deel dit op die Huddle-platform met hulle. Dan moet hulle ’n ontleding doen van byvoorbeeld wat in ’n sekere beweging fout gegaan het waar daar ’n drie afgestaan is,” verduidelik Van Straaten.

“Dis ’n manier om die spelers die stelsels beter te laat verstaan en dan kan jy hulle in die toekoms makliker afrig. Ons kom ook agter watter spelers meer individuele aandag nodig het wanneer ons die terugvoering kry.”

Meer oor:  Skopwerk  |  Inperking  |  Kings  |  Braam Van Straaten  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.