Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brendan se Du Plessis-SOS gee skrumwoema

’n Oud-Matie wat oorsee sy studies as fisioterapeut klaargemaak het en toe uit die bloute ’n oproep van Brendan Venter gekry het om hom by Saracens aan te sluit, is deesdae die Aussies se skrum-mechanic.

Petrus du Plessis het ’n ongewone pad in rugby geloop – ook ’n pad wat hy nooit regtig voorsien het nie, omdat hy nie te ernstig oor sy rugby was nie.

Petrus du Plessis
Petrus du Plessis (middel onder) saam met die Wallaby-voorry ná hul sege oor die All Blacks: Van links is Michael Alaalatoa, Brandon Paenga-Amosa en James Slipper.

Du Plessis het sy rugbyloopbaan by die Maties begin, vir die WP onder-19 gespeel en is toe Engeland toe om aan die Universiteit van Salford te gaan studeer.

Rugby was vir Du Plessis in daardie stadium eerder ’n lekker tydverdryf en hy het vir St Helens, Orrell, uitgedraf en uiteindelik 154 wedstryde vir Sedgley Park gespeel terwyl hy gestudeer het.

In sy hospitaaljaar het hy vir Nottingham gespeel toe Saracens se afrigter hom bel.

Dit was die een oproep wat sy rugbyloopbaan en sy lewe sou verander. Brendan Venter, ’n voormalige Springbok en Saracens se afrigter, het ’n stut nodig gehad en hy het Du Plessis gevra om vir sy klub te kom speel.

“Brendan het my gebel en vir my gesê ek moet môre daar aanmeld. Toe was ek agt seisoene lank daar,” lag hy.

Saam met Saracens het hy Premierliga-titels in 2011, 2015 en 2016 gewen en ook die Europese Kampioenskapbeker in 2016 en 2017.

Buiten rugby het Du Plessis sy lyf ook akteur en komediant gehou. Hy was onder meer te sien in die Britse rolprente London Fields, waarin Billy Bob Thornton ’n hoofrol gespeel het, en in Gatwick Gangsters.

Du Plessis en sy vrou, Lisa, moes self die dienste van ’n akteur bekom vir ’n skyntroue vir die familie, want hulle het nie geweet die twee is reeds in die geheim getrou nie.

Ná Saracens was hy vir ’n seisoen by London Irish voordat hy en Dave Rennie mekaar by Glasgow Warriors leer ken het. Al het Du Plessis net sewe wedstryde vir die Warriors gespeel, het hy onmiddellik ’n impak gemaak en die skrum begin afrig.

“Ons het die Warriors se skrum dramaties verbeter. Ons was sekerlik nie in die top-40 in Europa as ’n skrumspan nie, maar ’n jaar of so later was ons beslis in die topvyf as jy na die statistiek kyk,” lag hy.

Maar sy agtergrond in fisioterapie en as ’n spesialis in spelveiligheid in die skrum het baie bygedra tot die ommeswaai in die Warriors se spel. En Rennie was beïndruk daardeur.

Toe die Covid-19-pandemie die wêreld tref en Rennie ’n plan moes maak om Australië toe te verhuis ná sy aanstelling as die Aussies se nuwe hoofafrigter, was dit ’n maklike besluit om hom te neem.

“Ek en Dave het al in Maart reeds gesels en hy het my toe al gevra of ek graag by hom sou wou aansluit.

“Natuurlik kan ’n ou nie nee se vir so ’n pos nie,” verduidelik Du Plessis.

Terwyl hy tydens die inperking by die huis gewag het, het Du Plessis vrywillig vir die Britse NHS gaan werk.

In die Du Plessis-huis het die appels ook nie ver van die boom geval nie, wat sy seuns is talentvol in sport.

Ruan en Scharl was albei Britse Taekwondo-kampioene terwyl André, sy jongste, ook belofte toon. Lisa is ook ’n fisioterapeut.

Vir nou fokus Du Plessis op die Wallaby-skrum wat hy wil opbou tot een van die heel bestes ter wêreld. Maar die Covid-19-pad was sover nie maklik vir Du Plessis nie.

Sy eerste twee toetse het hy per video afgerig, terwyl hy nog in Australië in kwarantyn was. Hy het uiteindelik die span op die oggend van die derde Bledisloe-toets ontmoet.

“Ons het goeie talent in die Aussie-span wat deurkom. Hulle is jonk, maar hulle vaar baie goed.

“Die proses kan vier jaar neem om hulle voor te berei en te sorg dat die Aussie-span reg is vir die volgende Wêreldbeker.”

Meer oor:  Saracens  |  Wallabies  |  Australië  |  Petrus Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.