Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brendan: Só kan jy All Blacks klop

Wellington is nie “Sending Onmoontlik” vir die Springbokke nie.

Só skryf Brendan Venter in ’n meningstuk vir die Nieu-Seelandse webtuiste www.stuff.co.nz oor Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks.

Brendan Venter verlede jaar toe hy die Springbokke se verdedigingskonsultant was. Foto: Getty Images

“As Rassie Erasmus die lesse kan vat wat ons verlede jaar in Albany geleer het en daarna in Kaapstad toegepas het, kan Wellington die draaipunt in sy nasionale afrigtingstydperk wees.

“Allister Coetzee het sy werk effektief in Albany verloor. Erasmus kan syne behou met ’n goeie vertoning in Wellington,” skryf Venter.

Daar is volgens die voormalige Bok-konsultant en gouemedalje-wenner in 1995 se Wêreldbeker-toernooi ’n baie spesifieke manier om teen die All Blacks te speel.

As jy van die plan afwyk, wat in Albany verlede jaar gebeur het, kan jy swaar bloei. Om die All Blacks te probeer klop, is daar volgens Venter drie hoofelemente waarvan jy baie bewus moet wees.

“Al drie is eintlik binne jou beheer, wat jy as ’n span bestuur. Eerstens speel die All Blacks vir veldgebied. As jy hulle wil klop, moet jy hulle met jou taktiese skopwerk kan ewenaar.

“Jy kan nie bekostig om die bal net so ver moontlik veldaf te skop nie. Daar moet om besit met jou skoppe meegeding word, omdat die manne in swart dodelik is om van agter met teenaanvalle te kom. Wanneer daar om ’n skop meegeding word, koop dit vir jou tyd om jou verdedigingslyn te herorganiseer.

Ons het (in die Kaap) naby gekom om hulle te klop omdat ons ’n heel ander benadering in elke spelafdeling toegepas het. Ons het geleer dat jy nie die All Blacks met hul eie spel kan klop nie en moet fokus op jou eie sterkpunte.

“Op die oomblik het die Bokke dikwels agt spelers op die grond of wat rondom die losgemale staan wanneer hulle skop, wat hulle met net twee spelers in die agterveld laat en die speler wat skop. Dit beteken daar is dan daar is net enkele spelers wat die 67 meter-breedte (van die veld) moet verdedig. As die besoekers dit nie regkry nie, sal die All Blacks hulle van hul voete hardloop.

“Tweedens moet die Bokke hul balbesit beskerm, want die All Blacks se teenaanvalle is ongeëwenaard. Die Bokke moet dit beter as ooit tevore beskerm, want as jy die aangeë forseer en die All Blacks raap die bal op, is jy in die moeilikheid.

“Derdens moet jy die vaste fasette baie goed verdedig. Tradisioneel teken die All Blacks ’n hoë persentasie drieë van skrums en lynstane aan. As die All Blacks nie in staat is om van teenaanvalle, omgekeerde besit of die vaste fasette drieë te behaal nie, het jy ’n baie goeie kans om hulle te klop.

“Dis nie net wensdenkery nie.”

Die All Blacks het die Springbokke se verdediging verlede jaar in Albany in repies gekerf. Foto: Getty Images

Venter skryf die Bokke sukkel die afgelope tyd hoofsaaklik omdat hulle nie gevestigde kombinasies het nie en weekliks verskeie veranderinge maak.

“Die belangrikste ding wat Erasmus moet doen, is om dit nou te staak om oor die skep van diepte te praat. Hierdie Springbok-span het desperaat kontinuïteit nodig. Erasmus moet nou dieselfde span vir die volgende drie wedstryde kies en vir die groep sê: “Julle is die spelers wat ’n goeie kans gaan kry.”

Venter skryf al is die Bokke in die verlede gekritiseer omdat hulle oormatig konserwatief is, is dit ’n goeie idee om grootliks met die voorspelers en die nommer nege teen die All Blacks te speel.

“Die huidige span moet die les van Nuweland in ag neem omdat jy nie ’n ander span individueel fisiek oorheers nie. Jy oorheers hulle as ’n eenheid.

“Ons het (in die Kaap) naby gekom om hulle te klop omdat ons ’n heel ander benadering in elke spelafdeling toegepas het. Ons het geleer dat jy nie die All Blacks met hul eie spel kan klop nie en moet fokus op jou eie sterkpunte.

“Die ouens het geweet hulle het (in die Kaap) die oorhand oor die All Blacks gehad. Toe hulle van die veld op Nuweland stap, het ons geweet ons moes daardie wedstryd gewen het.”

* Venter het Allister Coetzee verlede jaar as die Springbokke se verdedigingskonsultant bygestaan.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Brendan Venter  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.