Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brits nie bitter ná bloutjie by Stormers
Schalk Brits erken die Twickenham-skare se applous nadat hy vroeër vandeesmaand vir die Barbarians teen Argentinië uitgedraf het. Al is hy al 37 jaar oud, sê Brits hy het nog baie brandstof in die tenk.Foto: Getty Images

As Schalk Brits in ’n Bulle-trui in 2019 se Superrugby-reeks draaie om die Stormers hardloop, sal dit die Kapenaars se verdiende loon wees.

Kortliks: Brits het vroeër vanjaar ’n aanbod aanvaar om in 2019 vir die Stormers te speel, die kontrak onderteken, van Londen na Stellenbosch getrek en sy kinders by ’n skool in die Eikestad ingeskryf.

Toe, sê hy, kom daar ’n SMS-boodskap van Paul Zacks, die WP se uitvoerende hoof, dat die Kapenaars kleinkoppie wil trek.

Dís die storie agter die storie oor waarom dié Springbok-haker vir die Bulle eerder as die Stormers in die Superreeks gaan speel. Nie dat hy dit nie as ’n groot voorreg beskou om vir die Bulle te speel nie.

Sy toekomstige werkgewer ná rugby, die beleggingsmaatskappy Remgro, is ’n 50%-aandeelhouer in die Blou Bulle Maatskappy en daar word groot beleggings in die unie gemaak.

“Ek het nooit gedink dat ek ’n Bulle-trui sou dra nie, maar is baie opgewonde daaroor. Loftus is ’n wonderlike stadion en die Bulle het ongelooflike ondersteuners. Hopelik kan ons weer groot skares lok,” het Brits in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê.

“Daar is geweldig baie ambisie by die Bulle – van die uitvoerende hoof tot die akademie. Hul visie is om ’n span van wêreldgehalte te bou.”

Duane Vermeulen en Schalk Brits is twee van die groot name wat die Bulle vir volgende jaar se Superrugby-reeks gewerf het.Foto: Gallo Images

Die Bulle se aggressiewe kontraktering van topspelers dui op dié ambisie om weer groot hoogtes te bereik. Brits, die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen en die Blitsbok-ster Rosko Specman is tot dusver die grootste visse, maar moenie verbaas wees as daar nóg is nie.

Dis net natuurlik dat baie mense wonder of Brits nog soveel het om te bied as ’n dekade gelede. Hy is 37 jaar oud in ’n sport waar die opvatting heers dat 30 die aanvang van jou skemerjare is.

Is Brits nog so gevaarlik met die bal in die hand soos destyds by die Westelike Provinsie en Goue Leeus? Is hy nog die speler oor wie daar in Engeland Chuck Norris-grappe vertel is ná sy uithalerspel oor ’n dekade heen vir Saracens in Engeland? Het hy die bene om dit tot die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan te maak?

“Suid-Afrikaners het vir lank nie baie van my gesien nie. Hulle weet nie juis waartoe ek in staat is nie. In die Noordelike Halfrond speel jy nie altyd flashy rugby nie. Die spel is dikwels vaster en jy moet daarby aanpas,” sê hy.

“Ek sien nou net baie daarna uit om saam met die hakers by die Bulle te werk, te speel en my beste te gee om die Bok-groep te haal. Ek wil doen wat ek kan om die Bulle suksesvol te maak.”

Brits wens desondanks daardie SMS nie teëspoed vir die Stormers toe nie. Onder die spelers het hy baie vriende en vir die Stormers en WP se afrigters – onderskeidelik Robbie Fleck en John Dobson – het hy baie tyd.

“Ek wou nie my loopbaan afsluit by ’n plek wat my nie wil hê nie en waar die motiewe nie altyd suiwer is nie. Die WP het my as ’n pond vleis eerder as ’n mens beskou.
Schalk Brits

Hy skakel in Januarie by die Bulle in en sal tussen Stellenbosch en Pretoria pendel.

“Ek wou nie my loopbaan afsluit by ’n plek wat my nie wil hê nie en waar die motiewe nie altyd suiwer is nie. Die WP het my as ’n pond vleis eerder as ’n mens beskou,” sê hy.

Met of sonder Brits het die Stormers natuurlik ook ’n gedugte span vir aanstaande jaar, maar dit kan die WP se base dalk loon om een van dié haker se teorieë ter harte te neem: “Mense verander die wêreld. As jy nie na mense kyk nie, sal ’n plek nie funksioneer nie.”

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Stellenbosch  |  Rugby  |  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby  |  Kontrak  |  Haker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.