Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus oefen op eiland vir Hoëveld se lug

Die Britse en Ierse Leeus kan nie ’n beter oefenkamp-tuiste vra as die een wat op die eiland Jersey in die Engelse kanaal in wording is nie.

Alun Wyn Jones, kaptein van die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

’n Blinknuwe oefensentrum ter waarde van £9 miljoen sal op 28 Mei sy deure open sodat die Leeus die Springbokke se ondergang daar kan gaan beplan.

“Om die Leeus hier te laat kom voorberei, is ’n droom. Dit is eintlik malligheid,” het Ben Harvey, voormalige rugbybreier van die Jersey Reds en die groot dryfkrag agter die Strive-sportsentrum, aan die Daily Mail gesê.

Alun Wyn Jones, kaptein van die Leeus, en sy spelers sal kan oefen in lugdrukkamers wat verskillende hoogtes bo seespieël naboots.

Johannesburg, waar die Leeus vier van hul toerwedstryde in Julie en Augustus sal speel, se 1 753 m bo seevlak kan in die kamers nagedoen word deur suurstof- en stikstofvlakke te manipuleer.

Daar is ook ’n ultramoderne gimnasium waarin slee-slepe en naellope gedoen kan word.

Steve Tandy, die Leeus se verdedigingsafrigter, sal in detail op ’n 3G-kunsgrasveld die spelers se plettervattegnieke kan verfyn, terwyl Paul Stridgeon, die toerspan se fiksheidsghoeroe, in sy noppies sal wees met die sentrum se dojo (waar Oosterse vegkuns beoefen kan word) en ’n Pilates-suite.

Warren Gatland, die hoofafrigter, en sy breintrust sal ook ’n lesinglokaal met groot interaktiewe skerms kan gebruik om die teenstand te ontleed.

Ben Harvey, wat hard aan die werk is om die perfekte oefenkamp vir die Britse en Ierse Leeus te reël. Foto: Getty Images

Spelers wat ’n skeet of twee moet afskud, kan dit in ’n hidroterapie-swembad met ingeboude trapmeule doen of aanklop by Jonny Picot, voormalige fisioterapeut van Manchester United, by die sentrum se mediese afdeling.

Harvey hoop die krioterapiekamer en nuwerwetse swembad arriveer betyds uit Frankryk omdat dit tans in die hawe van Granville gestrand is.

’n Dispuut tussen Jersey en die Franse regering het ’n agterstand in uit- en invoer meegebring.

“Ek hoop dit sal in die goeie gees van rugby betyds hier aankom en dat die Granville-rugbyklub sal help daarmee,” sê Harvey.

“Ons doen dit eerstens vir die Leeus en dan vir rugby. Dit is ’n netelige kwessie en ek hoop dit kan gou uitgesorteer word.”

Die Leeus sal op 13 Junie in Jersey voet aan wal sit en sal twee weke daar voorberei voordat hulle na Skotland vlieg om Japan op 26 Junie op Murrayfield te pak.

As die Leeus daarin kan slaag om die Springbokke in Suid-Afrika te klop, sal die span ’n Vervaardig-in-Jersey-stempel kry, skerts Harvey.

Nie dat hy homself ’n klop op die skouer wil gee nie.

“Ek voorspel dit gaan ’n teenaanval van Stuart Hogg wees wat dit doen (die toetsreeks wen),” sê Harvey, voordat hy onverwyld groet om sy meesterstuk te gaan voltooi. – dailymail.co.uk

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Warren Gatland  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.