Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Britse Leeus speel net in Gauteng, Kaap

Dis nou amptelik: Die Britse en Ierse Leeus se toer gaan slegs in Gauteng en Kaapstad gespeel word.

Luidens ’n nuusverklaring deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is dié stap gedoen om die risiko van ontwrigting wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak kan word tot ’n minimum te beperk.

Lood de Jager, sou hy betyds sy fiksheid herwin, gaan vir die Britse en Ierse Leeus ’n paar hande vol wees op hul Suid-Afrikaanse toer in Julie en Augustus. Foto: Getty Images

Die toer sou oorspronklik met ’n wedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion afgeskop het, maar nou begin die Leeus in Gauteng met wedstryde teen die Leeus, Haaie (albei op Ellispark) en Bulle (Loftus Versfeld).

Daarna is dit Kaapstad-stadion toe vir drie wedstryde – teen die SA A-span, die Stormers en die eerste toets teen die Springbokke. Die tweede en derde toetse sal dan in die FNB-stadion in Johannesburg gespeel word.

Daar sou oorspronklik ook wedstryde in Mbombela, Gqeberha (Port Elizabeth) en Durban plaasgevind het.

Die toerspan se wedstryd teen Suid-Afrika se Leeus vervang een wat oorspronklik ’n kragmeting met ’n SA uitnodigingspan sou wees.

Vir ’n uitnodigingspan sou spelers van oor Suid-Afrika heen gekies word, wat die Covid-19-risiko groter sou maak.

Diegene wat reeds kaartjies gekoop en daarvoor betaal het, sal hul geld outomaties terugkry op die kaart waarmee betaal is. Sou skares vir wedstryde toegelaat word, sal diegene wat aanvanklik kaartjies gekoop het eerste reg hê om weer te koop.

“Ons is verheug om uiteindelik ’n hersiene skedule te kan bevestig ná maande van scenariobeplanning en veranderende omstandighede,” sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof.

• Intussen berig die BBC dat ses Suid-Afrikaanse spelers wat by die Engelse klub Sale gekontrakteer is moontlik deel van die Bokke se planne vir die reeks teen die Leeus kan wees.

Alex Sanderson, Sale se direkteur van rugby, het onthul dat die tweeling Dan en Jean-Luc du Preez (albei losvoorspelers), Coenie Oosthuizen (vaskopstut), Lood de Jager (slot), Faf de Klerk (skrumskakel) en Akker van der Merwe (haker) almal aanspraakmakers is.

Sale sal nie in die spelers se pad staan indien die Bokke hulle wil betrek nie.

“Ek wil hê dat spelers hul potensiaal moet verwesenlik. As dit beteken dat hulle vir Suid-Afrika of die Leeus moet speel, ondersteun ek dit,” sê hy.

Sanderson het ook bevestig dat De Jager op koers is om sy fiksheid betyds te herwin vir die reeks teen die Leeus. De Jager herstel nog van ’n gebreekte been.

“In die rukkie voordat hy die besering opgedoen het, was hy een van die beste spelers wat ek nóg afgerig het. Hy is briljant – op en van die veld af,” sê Sanderson oor De Jager.

So lyk die hersiene skedule vir die Britse en Ierse Leeus se toer:

3 Julie: t. Leeus (Ellispark)

7 Julie: t. Haaie (Ellispark)

10 Julie: t. Bulle (Loftus Versfeld)

14 Julie: t. SA A (Kaapstad-stadion)

17 Julie: t. Stormers (Kaapstad-stadion)

24 Julie: t. Springbokke (Kaapstad-stadion)

31 Julie: t. Springbokke (FNB-stadion)

7 Augustus: t. Springbokke (FNB-stadion)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.