Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Britse Leeus-toer na SA in weegskaal

Die kwessie of die Britse en Ierse Leeus se toer na Suid-Afrika uitgestel, of dalk selfs afgelas kan word, sal waarskynlik in Februarie op die spits gedryf word.

Dis moeilik om jou ’n Britse en Ierse Leeus-toer sonder hul duisende ondersteuners in die paviljoene in te dink. Foto: Argief

Ofskoon die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) by navraag nie amptelik kommentaar wou lewer nie, het Netwerk24 verneem dat die vooruitsig ten opsigte van die Covid-19-pandemie in Brittanje en Suid-Afrika aan die einde van Februarie waarskynlik bepalend sal wees.

Brittanje is in ’n streng staat van inperking, waar mense gevra is om tuis te bly tensy spesiale omstandighede dit verg. Skole en universiteite is ook gesluit. Suid-Afrika is op ’n aangepaste vlak 3-inperking, met ’n rekordgetal van 21 832 positiewe koronavirusgevalle wat Woensdag aangemeld is.

Dit is nog onduidelik hoe vinnig entstowwe aan die breë bevolkings toegedien sal kan word om die situasie onder bedwang te bring.

Die Leeus se eerste wedstryd in Suid-Afrika is geskeduleer vir 3 Julie teen die Stormers op Nuweland en hulle sluit die toer af met die derde toets teen die Springbokke in Johannesburg op 7 Augustus.

Hulle sal laat in Junie reeds in Suid-Afrika land ná ’n opwarmwedstryd teen Japan in Edinburg, Skotland.

Dis onwaarskynlik dat dit ’n sterk oorweging sal wees om die Leeus-toer in leë stadions te speel. Skares gaan tradisioneel hand aan hand met die Leeus-toer en die ekonomiese inspuiting uit kaartjieverkope is ook ’n groot faktor in die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan.

Suid-Afrika se ekonomie in sy geheel sal ook ly onder die feit dat tienduisende Britse en Ierse toeriste nie dié land sal besoek nie.

Vir Suid-Afrikaanse rugby sal ’n gekanselleerde Leeus-toer ’n ekonomiese katastrofe wees. Rugbyunies gaan reeds gebuk onder omstandighede waar hulle nie kaartjies mag verkoop nie en sou waarskynlik die verwagte inkomste uit die Leeus-toer in hul finansiële vooruitskattings ingereken het.

Luidens ’n berig deur stuff.co.nz oorweeg die Leeus-direksie drie scenario’s indien die toer nie op sy tradisionele manier kan geskied nie:

• Dat die wedstryde in Brittanje en Ierland gespeel word.

• Dat die toer tot volgende jaar uitgestel word.

• Dat die wedstryde binne leë stadions gespeel word.

Die rubriekskrywer David Long het selfs voorbrand gemaak vir kort Leeus-toere na Australië en Nieu-Seeland indien die een na Suid-Afrika nie kan voortgaan nie.

Ben Calveley, besturende direkteur van die Britse en Ierse Leeus, het die afgelope naweek ’n verklaring uitgereik waarin gesê is dat daar in Januarie en, indien nodig, tot in Februarie, vergaderings oor die kwessie gehou sal word.

“Ons werk volgens die jongste inligting tot ons beskikking. Gegewe die onsekerheid wat steeds deur die koronavirus in Suid-Afrika, Brittanje en Ierland geskep word, is ons baie bewus dat ons betyds ’n besluit moet neem oor die pad vorentoe sodat ons ondersteuners, wat reeds besprekings gemaak het om na Suid-Afrika te reis, en diegene wat oorweeg om dit nog te doen, duidelikheid kan gee,” sê Calveley.

Volgens hom sal daar raadpleging met Saru wees. Daar word ook met die betrokke regerings gepraat om op hoogte te bly van hoe die situasie met die koronavirus in die betrokke lande ontvou.

Meer oor:  Brittanje  |  Covid-19  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.