Britse en Ierse Leeus-ondersteuners het ’n petisie aanlyn begin wat ’n beroep doen dat vanjaar se toer in Suid-Afrika tot 2022 uitgestel word eerder as om dit in Brittanje aan te bied.

Sowat 30 000 mense sal na verwagting saam met die Britse en Ierse Leeus toer indien die reeks in Suid-Afrika beslis word. Foto: Getty Images
Meer as 2 600 mense het die petisie teen Donderdagoggend geteken en gevra dat die Leeus nie wegdoen met 133 jaar van tradisie deur die reeks teen die Springbokke in Brittanje te hou nie. Volgens Rugby365 is dit een van drie gebeurlikheidsplanne wat weens die Covid-19-pandemie ondersoek word.
Indien die toer nie soos beplan voor vol stadions kan plaasvind nie – ’n besluit hieroor word in Februarie geneem – is die ander opsies om dit met ’n jaar uit te stel of dit agter geslote deure in Suid-Afrika aan te bied.
Die petisie meen uitstel is die enigste aanvaarbare keuse en dring daarop aan dat die internasionale toetsreekse in Junie en Julie in 2022 plek maak vir die Britse Leeus-toer.
“Covid-19 sal na alle waarskynlikheid die Britse en Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika vanjaar verhoed,” sê Mark Gardner, die organiseerder van die petisie op change.org.
“Ons doen ’n beroep op die tuisunies Engeland, Skotland, Ierland en Wallis wat gesamentlik die raad van die Britse en Ierse Leeus vorm, asook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, om die regte ding te doen en die toer tot 2022 uit te stel.”
Gardner voer aan die Britse Leeus-toer moet prioriteit geniet bo die vier tuisunies se beplande toetsreekse in 2022 en dat hulle tussen hulle “slegs 36 spelers” hoef af te staan.
Hy meen om die reeks na Brittanje te skuif sal die ryk geskiedenis van die toeriste skade berokken en Suid-Afrikaanse toeskouers, stadions, ondernemings en toerismebedryf ontneem van die geleentheid om “die verwagte 30 000 mense wat die Leeus op toer volg te onthaal, te beïndruk en daaruit voordeel te trek”.
Hy wys ook daarop dat Britse reisagentskappe, lugrederye en ander verliese sal ly weens die kansellasie van reëlings wat reeds vir die toer vanjaar getref is.
“Brittanje se stygende koronavirusgevalle bied in elk geval geen waarborg dat wedstryde hier enigsins toeskouers sal kan verwelkom nie.
“Help ons om 30 000 handtekeninge te kry om te help dat die Leeus in Julie en Augustus 2022 in Suid-Afrika toer, eerder as om tevrede te wees met ’n afgewaterde alternatief wat slegs fokus op wins vir ’n klein uitgesoekte groep.”
– Sportredaksie