Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Britte dalk gou ‘in bed’ met die Haaie

Wêreldrugby het binne ’n kwessie van twee weke ’n Amerikaanse geur so sterk soos Burger King gekry.

Nadat die Amerikaanse konsortium MVM Holdings twee weke gelede ’n beherende aandeel in die Haaie gekry het, wil nóg ’n Amerikaanse konsortium ’n aandeel in die Britse klub Saracens bekom. Die beleggingsmaatskappy van die VSA, Silver Lake, het boonop ’n oog op die All Blacks.

Dit is egter die inkopie in Brittanje wat Suid-Afrikaanse rugbybase se aandag sal trek.

Marco Masotti, hoof van die MVM-konsortium, het ’n aandeel in die Amerikaanse beleggingsmaatskappy MSD Capital, wat ’n belegging in die Londense rugbyklub beoog.

MSD Capital se belegging in Saracens is Vrydag deur die Britse koerant The Daily Mail onthul.

Rapport se inligting is dat Masotti ten nou­ste betrokke is by die onderhandelinge met Saracens, en selfs van sy eie geld in die klub kan belê as deel van die konsortium. Rapport verneem Masotti het die twee partye aan mekaar voorgestel.

Volgens Rapport se inligting is die belegging in Saracens Masotti se breinkind en hy hoop om daarmee ’n “strategiese langtermynverhouding” tussen Saracens en Suid-Afrika te ontwikkel.

Marco Masotti, hoof van die konsortium wat ’n groot belang in die Haaie se franchise bekom het.

Rapport verneem Masotti het op sy onlangse reis na Suid-Afrika ook die gewese Springbok-kaptein Francois Pienaar ontmoet, wat glo ook gehelp het om die Saracens-belegging te fasiliteer.

Masotti en sy konsortium het verlede week ’n belang van 51% in die Haaie verkry nadat hul onderhandelinge met die WP deur die mat geval het.

MVM wou ’n beherende aandeel in die WP se sakevleuel verkry, maar het dit laat vaar nadat onderhandelinge met die WP se president, Zelt Marais, gesloer het.

Daar word reeds oor ’n langtermynvennootskap tussen die Haaie en Saracens gepraat.

Saracens het voorheen, deur ’n belegging van die Remgro-groep, noue bande met die WP en die Blou Bulle gehad. Dit het in 2018 geëindig toe Remgro sy belang van 50% aan die klub se Britse eienaar, Nigel Wray, verkoop het.

Saracens, wat tans weens salariskerfoortredings nie in die Britse Premierliga speel nie, behoort volgende seisoen na die topliga terug te keer en is steeds die huidige Europese kampioen.

MSD Capital is ’n beleggingsmaatskappy wat die laaste paar jaar al “tientalle miljoene in lenings” aan Britse sokkerklubs soos Southampton, Derby, Burnley en Sunderland verskaf het. Terwyl dit nie duidelik is hoe groot die aandeel is wat hulle in Saracens wil koop nie, is Wray blykbaar gewillig om tot 50% te verkoop. MSD wil blykbaar die belegging doen om rugby se uitbreiding in die VSA te help bevorder.

Saracens het verlede week ’n borgskapooreenkoms van vier jaar met StoneX, ’n finansiëledienstemaatskappy van New York, gesluit.

Een van MVM se beleggers, die uitvoerende hoof van Roc Nation, Michael Yormark, is die agent van die Saracens-slot Maro Itoje. Hy is ook Siya Kolisi se agent.

Masotti wou nie op die Saracens-belegging kommentaar lewer nie.

Intussen verneem Rapport dat die WP Rugbyunie (WPRU) ’n “dringende vergadering” met sy eiendomsvennoot Flyt Property aangevra het om ’n skadevergoedingseis te bespreek.

Rapport het onlangs onthul dat Flyt meer as R500 miljoen se skadevergoeding eis nadat die WPRU probeer het om die eiendomsontwikkelingsooreenkoms om Nuweland-stadion en Brookside gesamentlik te ontwikkel, nietig te verklaar en te onttrek.

Volgens Rapport se inligting is die WP bereid om skadevergoeding te betaal om uit die ooreenkoms te kom.

Marais het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Haaie  |  Mvm Holdings  |  Saracens  |  Marco Masotti
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.