Die Springbokke het al vanjaar meer om die lyf gehad en het lanklaas ’n aandeel in só ’n saai toets gehad soos Saterdagaand teen Argentinië op Loftus Versfeld.
Kyk jy egter na die groter prentjie, is Suid-Afrika steeds onoorwonne in ’n Wêreldbeker-seisoen nadat die Poemas met ’n nederlaag van 24-18 huis toe gestuur is.

Die vleuel S’bu Nkosi het Saterdag twee uitstekende vyfpunters vir die Bokke aangeteken. Foto: Gallo Images
Die stryd het so byna in ’n antiklimaks geëindig toe die besoekers enkele minute voor die eindfluitjie die “wendrie” druk.
’n Kykweer het gewys die Poemas het obstruksie gepleeg en die Bok-makietie het darem nie op ’n droë affêre uitgeloop nie.
Die groot vraag was natuurlik of Siya Kolisi steeds in ’n stryd teen tyd gewikkel is om volgende maand op sy pos te wees wanneer sy span in Japan die Webb Ellis-beker in sy visier het?
Hy was om verstaanbare redes nie so prominent soos in die meeste van sy toetse in 2018 nie, maar hy het nietemin tot in die 52ste minuut genoeg in die tenk gehad om die pas vol te hou.
Kolisi het plek-plek sy oomblikke gehad en sy breier, Rassie Erasmus, sal na dese groter gemoedsrus hê.
Dit was ’n slypstryd vir die skouspel in Japan tussen twee saamgeflanste spanne, en dit het in die eerste helfte op die telbord gewys.
Albei spanne het vir die grootste deel van die helfte net ’n strafdoel gehad om te wys met die samespel wat aan weerskante ontbreek het.
Die spanne was, met die tuisspan 8-3 voor nadat die Bok-regtervleuel S’bu Nkosi gaan druk het, op die punt om koers te kies kleedkamer toe, toe die slot Guido Petti ’n wilde aangee van Cobus Reinach onderskep en doellyn toe gestoomroller het.
Hoewel die Springbokke in beheer was, is die Poemas stert in die lug kleedkamer toe.
Die tweede helfte het genadiglik meer van ’n skouspel opgelewer, hoewel daar ná 80 minute nie veel tussen die spanne was nie.
Daar was, weens die slordige stryd, nie juis Bokke wat hulle WB-aandele ’n stewige hupstoot kon gee nie.
André Esterhuizen was fisiek en direk in die 12-kanaal en het sy span gereeld voorvoet-momentum gegee.
In die pak het die vaskopstut, Vincent Koch, sy beste toets nog gespeel en die flank Rynhardt Elstadt was oral op die veld.
Nkosi was voortreflik op die aanval en Erasmus gaan moeilik tussen hom en Cheslin Kolbe kies volgende maand.
Puntemakers:
Suid-Afrika 24 (8). Drieë: S’bu Nkosi (2). Strafdoele: Elton Jantjies (4). Doelskop: Jantjies.
Argentinië 18 (10). Drie: Guido Petti, Pablo Matera. Strafdoel: Joaquin Diaz Bonilla, Benjamin Urdapilleta. Doelskop: Diaz Bonilla