Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brumbies smaak glorie teen Reds

Die Brumbies het Saterdag hul eerste Superrugby-titel sedert 2004 verower toe hulle die Reds met 28-23 in die GIO-stadion in Canberra uitoorlê het in die eindstryd van die Superrugby AU-reeks.

Die Brumbies vier Tom Banks se drie in die tweede helfte van die Superrugby AU-reeks se eindstryd. Foto: Getty Images

Ofskoon die telling op ’n taai affêre dui, was dit meestal die wenspan wat al die speelwerk gedoen het, terwyl die Reds deurlopend hul eie grootste vyand was en gesukkel het om waardevolle momentum te bou.

Die Brumbies sal wonder hoe hulle toegelaat het om sake so naby te laat kom nadat hulle in ’n stadium met 28-13 voorgeloop het.

Teen die tyd toe die Reds-vleuel Filipo Daugunu koelkas toe gestuur is vir ’n gevaarlike plettervat, het dit gelyk of die skrif aan die muur was vir die Reds.

Die daaropvolgende 15 minute het egter aan die Reds behoort met die Brumbies wat slordig begin raak het.

’n Strafdoel deur O’Connor en ’n drie deur die slot Angus Blyth het die span skielik weer binne trefafstand gebring, maar die Brumbies sal dankbaar wees dat die feit dat hy nader aan die einde sy konsentrasie verloor het hom nie duur te staan gekom het nie.

Die Reds sou teen die omdraaislag self kopgekrap het oor hoe op dees aarde hulle steeds binne trefafstand was ná hul swak vertoning, met die telling in daardie stadium 15-13 in die Brumbies se guns.

Met die Reds se dissipline wat deurlopend gelol het en die span wat net eenvoudig geen struktuur in hul spel gehad het nie, het die Brumbies in byna elke aspek oorheers.

Folau Fainga’a het sy tiende drie in opeenvolgende seisoene gedruk toe die Brumbies-pak oor die lyn gestoot het nadat die Reds se dissipline hulle vir die soveelste keer in die steek gelaat het.

Die buitesenter Tevita Kuridrani het uiteindelik hierdie seisoen die peil gewys wat van hom ’n gevreesde naam in rugbykringe gemaak het. Met twee kraglopies was hy deurslaggewend in die aanloop tot Andy Muirhead se drie.

Die Brumbies het verskeie van die Reds se balle in die lynstane gegaps, met Brandon Paenga-Amosa wat ’n nagmerrie beleef het en nie sy springers kon vind nie. Hy het teen die derde minuut van speeltyd reeds twee keer in die lynstaan drooggemaak met sy ingooie.

Dan het die besoekers ook swaar geleef by die afbreekpunte.

Die enigste rede vir hoop in die eerste helfte was ’n stukkie individuele briljantheid deur die regtervleuel Jordan Petaia wat bresse geslaan het om die agtsteman Harry Wilson weg te stuur om te gaan druk.

Die een aspek van die spel wat wel aan die Reds behoort het, was in die skrums, waar die Brumbies harde bene gekou het.

Nietemin kon die span van Canberra vasbyt in sy eerste Super-eindstryd teen die Reds sedert hy in 2001 ook baas was.

* Puntemakers:

Brumbies 28 (15): Drieë: Folau Fainga’a, Andy Muirhead, Tom Banks. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Strafdoele: Lolesio (2). Skepdoel: Lolesio.

Reds 23 (13): Drieë: Harry Wilson, Angus Blyth. Doelskoppe: James O’Connor (2). Strafdoele: O’Connor (3).

Meer oor:  Canberra  |  Brumbies  |  Superrugby Au-Reeks  |  Reds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.