Drie Brumbies het Saterdag amok gemaak teen die Waratahs en nege drieë ingeryg in hul rekordsege van 61-10.

Mack Hansen van die Brumbies op die aanval teen die Waratahs. Hy het ’n driekuns aan drieë behaal. Foto: Getty Images
Die linkervleuel Mack Hansen het ’n driekuns behaal met sy span wat hul grootste oorwinning tot nog toe oor hul aartsvyande in Canberra behaal het.
Die verdedigende kampioene was in ’n ongenadige bui en, anders as verlede week teen die Western Force, het hulle nie dié slag die voet van die versneller afgehaal nadat hulle vroeg ’n voorsprong opgebou het nie.
Die Brumbies het dit gevolglik twee uit twee gemaak in die Superrugby AU-reeks en lyk na die vroeë gunstelinge om vanjaar weer met die titel weg te stap.
Die twee spanne het ’n taai geskiedenis teen mekaar en het die wedstryd binnegegaan met die Brumbies wat 20 keer in die verlede al aan die wenkant was, terwyl die Waratahs al 17 keer sedert 1996 die pyp gerook het.
Dit is egter eersgenoemde wat onlangs deurlopend die oorhand gehad het.
Ná die naweek het die Brumbies nou 10 uit die laaste 11 Superrugby-kragmetings teen die Waratahs gewen, met Saterdag se sege hul sewende op ’n streep.
Drieë deur Hansen, Rob Valetini, Noah Lolesio en Connal McInerney het die Brumbies al met rustyd met 26-10 in die saal gehad.
Buiten ’n kort tydperk aan die einde van die eerste helfte, waartydens die Waratahs hul enigste drie van die wedstryd gedruk het, was dit eenrigtingverkeer.
Nic White, Ryan Lonergan en Tom Banks het ook hul name ná die omdraaislag onder die puntemakers gekry, terwyl Hansen sy tweede en derde ingeryg het.
In 1997 het die Brumbies die Waratahs met 47 punte geklop in hul oorwinning met 56-9, wat tot en met Saterdag hul grootste oorwinning tot nog toe was in dié kragmeting. - Sportredaksie
* Puntemakers:
Brumbies 61 (26): Drieë: Mack Hansen (3), Rob Valetini, Noah Lolesio, Connal McInerney, Nick White, Ryan Lonergan, Tom Banks. Doelskoppe: Lolesio (5), Lonergan (3).
Waratahs 10 (10): Drie: Harry Johnson-Holmes. Doelskop: Will Harrison. Strafdoele: Harrison.