Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brüssow het jong baljagter inspireer

Die manier waarop die voormalige Springbok-flank Heinrich Brüssow in sy speeldae balle by die afbreekpunte gesteel het, het as ’n inspirasie vir ’n jong rugbyspeler van die Noord-Kaap gedien.

Heinrich Brüssow in aksie vir die Springbokke in ’n toets teen die All Blacks in 2015 op Ellispark in Johannesburg. Op die agtergrond is Schalk Burger. Foto: Gallo Images

Brüssow staan 1,80 m in sy sokkies, en hoewel Johannes Terblanche (1,79 m), wat vanjaar die Varsitybeker-reeks vir die Ixias aan die brand speel, dalk nie die langste speler op die veld is nie, is hy voor in die koor wanneer dit daarby kom om besit vir sy span te verseker.

Die 22-jarige Terblanche, ’n oudleerling van die Hoërskool Upington wat Griekwas Platteland in 2016 in die Cravenweek-toernooi vir o.18-spanne verteenwoordig het, het al gehoor dat hy nie lank genoeg is om rugby te speel nie.

“ ’n Afrigter het eendag vir my gesê dit is waarom ek harder sal moet werk. Ek hou daarvan om balle te steel en dit is makliker omdat ek net so lank soos die gras is,” skerts Terblanche.

“Vir ouens wat lank is, is dit baie moeiliker om by die bal uit te kom. Eintlik is ek van kleins af ’n groot ondersteuner van spelers soos Heinrich Brüssow en Kwagga Smith.

“Ek wou altyd soos Heinrich gespeel het, die manier waarop hy balle gesteel het. En dan Kwagga met die bal in die hand. Boonop hou ek baie daarvan om duikslae uit te voer.”

Johannes Terblanche staan nader om in ’n wedstryd in vanjaar se Varsitybeker-reeks teen die Madibaz in Pretoria sy hande op die bal te kry. Niell Stannard, senter van die Ixias, is die speler wat die duikslag uitvoer. Foto: Varsity Cup

Diegene wat die studentereeks volg, sou Terblanche, in die nr. 6-trui en die rooi skrumpet op sy kop, waarskynlik al gesien het. Altyd op die voorpunt besig om balle te steel en duikslae uit te voer asof sy lewe daarvan afhang.

Terblanche is een van drie broers en sy vroegste herinnering van rugby is waar hy as vyfjarige buite sy ouerhuis in Keimoes in die Noord-Kaap op die gras rugby gespeel het.

Met sy rooi skrumpet in die Varsitybeker-reeks kan Johannes Terblanche nie miskyk word nie. Foto: Varsity Cup

“Ons het ons eie Superrugby-wedstryde daar teen mekaar gespeel. Ek onthou ons het op mekaar afgehardloop en mekaar geduik,” sê hy.

Op skool was Terblanche, wat die Vrystaat op junior vlak verteenwoordig het, aanvanklik ’n haker. Deesdae gebeur dit steeds dat hy soms in die middel van die skrum gaan sak.

Terblanche speel al sedert 2018 vir die Ixias, wat vanjaar ’n droomseisoen beleef en derde op die puntelys is. Maar in 2018 het sake heel anders daar uitgesien.

Die Vrystaters kon daardie jaar net een wedstryd – naelskraap met 38-37 teen die Madibaz – wen en het voorlaaste op die punteleer klaargemaak.

“Ek haat verloor. Destyds was my eerste wedstryd vir die Ixias teen die Puk in Potchefstroom. Ons het daardie dag met 70-7 verloor en dit was aaklig,” sê hy.

“Omdat ek baie mededingend is, is dit sleg vir my om te verloor.”

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.