Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bryan glo Bokke is ’n WB-buiteperd

As daar een span is waarvoor al die ander spanne sal lugtig wees by vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi, is dit Suid-Afrika.

“Want almal het verlede jaar in Wellington gesien wat kan gebeur as die Bokke op hul beste is,” het die voormalige Springbok-vleuel Bryan Habana Woensdag in Johannesburg gesê.

Bryan Habana en Dan Carter by die Wêreldbeker-trofee. Foto: Tinus van Staden

Habana, wat die Bokke in drie Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig het, glo die sege oor die All Blacks verlede jaar in Wellington, sal Suid-Afrika baie selfvertroue gee voor die Wêreldbeker-toernooi in September in Japan begin.

“Die eerste wedstryd teen Nieu-Seeland gaan groot wees, want dit kan die pad vorentoe bepaal en bepaal of jy Ierland of Skotland in die kwarteindstryd ontmoet,” sê Habana.

“Voor vanjaar se Sesnasies-reeks, was Ierland volgens my die beste span in die wêreld.”

Die Bokke se eerste wedstryd by dié toernooi is teen Nieu-Seeland op 21 September.

Habana sê 2018 het baie belofte getoon, al het die Bokke ’n wenrekord van slegs 50% gehad. Hy sê die breier, Rassie Erasmus, was slim om ’n klomp spelers blootstelling te gee.

“Hoe Rassie sy span gaan saamstel en wie hy gaan kies van oorsee, gaan ook bepalend wees. Daar is baie spelers wat selfvertroue het en ook ervaring het van rugby in Japan.

“Ek weet Rassie en Siya (Kolisi) sal weet daar is nog baie harde werk om te doen. Hopelik kan die Bokke goed vaar en minstens die halfeindstryde haal.

“Rassie het verlede jaar vir baie spelers kanse gegee. Dit was goed, want hy het sy net wyd gespan.”

Habana sê die spelpeil van senior spelers is bitter belangrik.

“Oor die laaste paar maande was dit goed om te sien hoe senior spelers soos Willie le Roux, Duane Vermeulen, Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi en Faf de Klerk regtig goed vertoon.

Rassie het verlede jaar vir baie spelers kanse gegee. Dit was goed, want hy het sy net wyd gespan.
Bryan Habana

“Dan het jy ook jong spelers soos Embrose Papier wat na vore getree het.

“Rassie sal wil hê die volgende groep spelers druk hul stempel in die Superrugby-reeks af vanjaar.”

’n Paar sleutelspelers van die Bulle het veral Habana se oog getref.

“Daar is ’n paar ouens wat baie goed vaar, soos Handré Pollard, wie se spelpeil uitstekend is. Hy wys ook goeie leierskap vir die Bulle.

“Schalk Brits, op die jong ouderdom van 37, is ook besig om die wêreld aan die brand te speel.

“Ek dink Rassie sal ’n goeie idee hê oor hoe sy ideale beginspan of 23-tal lyk, maar die volgende groep spelers tree ook na vore.”

Meer oor:  Wb-Rugby  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.