Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bul-breier: Ervaring of vernuf?

Carel du Plessis, die voormalige Springbok-afrigter, glo Superrugby-ervaring en blootstelling aan dié kompetisie moet twee van die belangrikste faktore wees wanneer die Bulle se bestuur hul nuwe afrigter kies.

Deon Davids rig die Kings sedert 2016 af. Foto: Gallo Images

Dit beteken nie noodwendig dat die geskikte kandidaat ervaring moet hê as ’n afrigter op dié vlak nie, want as ’n speler kan ’n mens net soveel wys raak van die unieke uitdagings wat Superrugby bied.

Die Bulle het Maandag bekend gemaak dat Victor Matfield, Deon Davids en Pote Human die drie kandidate op hul kortlys is om as die Bulle se nuwe afrigter aangestel te word.

Van dié drie kandidate het Matfield verreweg die minste ervaring as afrigter, maar Du Plessis glo nie dit sal noodwendig teen hom tel nie.

Du Plessis sê elke kandidaat sal sy eie sterkpunte hê.

“Daar sal verskeie redes wees waarom dié drie die kortlys gehaal het,” sê Du Plessis.

“Dit gaan oor meer as bloot ervaring op afrigtersvlak. Dit gaan ook oor ’n goeie kennis op ander gebiede en iemand wat vernuwing kan bring.

“Hoeveel jare se ervaring die betrokke kandidaat as afrigter het, behoort nie die grootste faktor te wees nie.”

Victor Matfield was verlede jaar die Goue Leeus se voorspeler-afrigter in die Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

Naka Drotské, wat die Cheetahs van 2007 tot 2015 in die Superrugby-reeks gebrei het, glo Matfield het die potensiaal om in ’n uitstekende afrigter te ontwikkel.

“Wat wel teen hom tel, is dat hy nog nie die hoofafrigter op ’n hoë vlak was nie,” sê Drotské.

“Hy het wel baie ervaring as ’n speler en hy het onder ’n groot verskeidenheid afrigters gespeel, wat weer in sy guns tel.

“Pote het nou weer meer ervaring, maar of hy tegnies so goed soos Victor is, weet ek nie. Dit is wel moeilik om te sê, want ek het laas saam met hom gespeel en hom nog nie as ’n afrigter ervaar nie.”

Drotské was vol lof vir dít wat Davids met beperkte hulpbronne by die Kings kon uitrig.

“Wat Deon reggekry het by die Kings met beperkte spelers, is baie indrukwekkend. Dit gaan gewis ’n moeilike keuse vir die Bulle wees.”

Matfield het die Goue Leeus in 2017 se Curriebeker-reeks as voorspeler-afrigter bygestaan. Hy word wyd gereken as een van die beste rugbybreine in die land.

’n Groot deel van die sukses wat die Bokke in 2009 behaal het, toe hulle die Britse en Ierse Leeus geklop het, die Drienasies-reeks gewen het en die All Blacks drie keer agtereenvolgens verslaan het, word voor ’n groep spelers, onder wie Matfield en Fourie du Preez, se deur gelê.

Pote Human het die Bulle in die Curriebeker-reeks afgerig. Foto: Gallo Images

Human het in 1996 begin afrig en sy breierstande by die Griffons en Shimlas geslyp. Hy woeker sedert 2005 in Pretoria, waar hy as afrigter by die Bulle, die Blou Bulle en Tuks betrokke was.

Wat in sy guns sal tel, is dat hy spelers wat deur die Bulle se jeugstrukture kom, goed sal ken vanweë sy vorige pos as Tukkies se hoofafrigter.

Hy het die Bulle ook in die Curriebeker-reeks afgerig.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het as’t ware ’n hospitaal-aangee na Davids laat loop deur van hom te verwag om welslae met die Kings te behaal, sonder groot spelersdiepte of spelers van uitstaande gehalte in ’n meedoënlose kompetisie.

Die ommekeer wat hy in spelers soos Lionel Cronjé en Louis Schreuder se loopbane bewerkstellig het, spreek boekdele. Hy het ook ’n groot rol in die ontwikkeling van Makazole Mapimpi gespeel.

Verskeie mense lek hul lippe af om te sien wat hy met ’n sterk groep soos dié van die Bulle kan uitrig.

Wat wel teen hom kan tel, is dat hy nog gekontrakteer is by die Kings en dus uit sy kontrak gekoop sal moet word.

Meer oor:  Pote Human  |  Deon Davids  |  Victor Matfield  |  Superrguby  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.