Jacques van Rooyen is vir een week geskors en sal nie Saterdag vir die Bulle in die voorry kan sak teen die Cheetahs nie.
Van Rooyen het Dinsdag sy saak voor ’n tugkomitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gestel nadat hy Saterdagaand op Nuweland ’n rooikaart vir ’n gevaarlike duikslag op Warrick Gelant, heelagter van die Westelike Provinsie, in die spanne se Curriebeker-ontmoeting gekry het.

Jacques van Rooyen is vir een week geskors. Foto: Gallo Images
’n Skorsing van minstens twee weke is gewoonlik spelers wat ’n rooikaart gekry het se voorland, maar daar is in Van Rooyen se geval versagtende omstandighede in ag geneem.
Die Bulle-breier, Jake White, het ná die wedstryd gesê hy het nie gedink die span se loskopstut het ’n rooikaart verdien nie.
Van Rooyen se skouer het aanvanklik Gelant se skouer getref, maar sy arm het met die heelagter se kop kontak gemaak toe hy grond toe gegly het.
Die skeidsregter, AJ Jacobs, het nadat hy die voorval met die TV-skeidsregter, Rasta Rasivhenge, bespreek het, gesê daar is “met ernstige gevaar” kontak gemaak met die aanvallende speler se kop.
Van Rooyen sal aanstaande Saterdag in Durban teen die Haaie sy terugkeer kan maak.
Dit is onseker of die Springbok Lizo Gqoboka, wat die laaste paar weke van ’n kuitbesering herstel, oorweeg kan word.
Gerhard Steenekamp is die Bulle se loskopstut op die plaasvervangersbank en is die gunsteling om Saterdag op Loftus Versfeld die nr. 1-trui te dra.