Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bul-triomf ná harde woorde rustyd val
Stedman Gans het Saterdag teen die Leeus die drie gedruk wat die skaal finaal in die Bulle se guns geswaai het. Foto: Gallo Images

Nadat hy rustyd baie hard moes praat om sy spelers se enjins aan die brul te kry, het Jake White Saterdagaand met ’n breë glimlag voor die media gaan sit.

Die Bulle moes ontwrigting in hul skrum (sowel voor as gedurende die wedstryd) en ’n Leeus-lostrio, wat volgens White die reëls gebuig het, oorkom voordat hulle ’n swaarverdiende oorwinning van 30-25 op Ellispark kon vier.

“Wat ek (rustyd) in die kleedkamer gesê het, kan nie in ’n openbare forum herhaal word nie, maar die spelers het beslis die boodskap gekry,” het White gesê. “Ek het die reaksie gekry waarop ek gehoop het.

Wat ek (rustyd) in die kleedkamer gesê het, kan nie in ’n openbare forum herhaal word nie, maar die spelers het beslis die boodskap gekry.
Jake White

“Ons kan nie elke keer wanneer ons op die agtervoet is hard praat nie. Die spelers sal een of ander tyd hulself moet leer aanvuur. Maar ons het weer, soos in ons ander wedstryde, die tweede helfte goed gewen, wat ’n goeie getuigskrif vir ons kondisionering is. Dit stel ’n opwaartse kurwe voor.”

Die Bulle het gaan water drink met ’n agterstand van 10-15 nadat hulle nie hul voete in die skrums kon vind nie en in die eerste helfte uitoorlê is by die afbreekpunte. White sê hy was verheug dat sy span dít kon verander in die tweede helfte, toe hulle met meer oorgawe geskrum het en met meer doelgerigtheid aangeval het.

“Dis nie ’n verskoning nie, maar ons het baie ontwrigting (voorlangs) gehad. Ons het ons haker (Johan Grobbelaar) Donderdag verloor en ons een flank (Elrigh Louw) is binne die eerste vyf minute van die wedstryd af. Toe verloor ons albei ons stutte.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle. Foto: Getty Images

“Ons het baie gevra van ons plaasvervangers en ons weet hulle is ’n jong groep in terme van die hoeveelheid tyd wat hulle al saam gespeel het. Vir hulle om 40 minute so goed te speel soos hulle het, ná min tyd op die veld as ’n eenheid, is natuurlik verblydend,” het White gesê.

“Die Leeus het ook ’n lostrio gekies wat besit kon vertraag by die afbreekpunte, so dit was morsig daar. Ek het gedink hulle was ’n paar keer gelukkig om nie gestraf te word nie. In een stadium waarin ons op die aanval was, het hulle vier keer oortree. Hul doelwit was om ons ritme op die aanval te versteur en dit het hulle goed reggekry.

“Dit was ’n harde wedstryd en ek is bly oor die uitslag. Soms moet jy wedstryde soos dié op die lelike manier wen. Dit gaan nie altyd eensydig wees nie.”

Danksy hul terugvegpoging in die tweede helfte het die Bulle nou ’n gemaklike buffer bo-aan die Superrugby Unlocked-reeks se punteleer.

Met 19 ligapunte het hulle ’n voorsprong van ses punte oor die Stormers en Haaie. Die Pretorianers het nou ’n loslootjie, maar sal steeds die pas aangee ná die komende ronde rondomtalie-wedstryde.

Om die waarheid te sê, hulle sal net van die titel weerhou word as iets oor die volgende twee weke lelik vir hulle skeefloop. Die Bulle se laaste wedstryd is op 20 November teen die Pumas – ’n span teen wie hulle met niks minder as ’n bonuspunt-oorwinning tevrede sal wees nie.

• Op YouTube: 

Meer oor:  Stedman Gans  |  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  Ellispark  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Unlocked-Reeks  |  Afrigter  |  Rugby  |  Bulle  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.