Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle 2, WP 0: Embrose Papier hou by blou

’n Tweede Springbok het nee gesê vir ’n aanbod om sy rugby volgende jaar in die Kaap te speel.

Sy bloed bly blou . . . Embrose Papier, Springbok-skrumskakel van die Bulle.

Die skrumskakel Embrose Papier se besluit om ’n nuwe driejaarkontrak met die Blou Bulle, te sluit, volg nadat Duane Vermeulen ’n aanbod van die Bulle-franchise aanvaar het om volgende jaar Loftus Versfeld sy rugbytuiste te maak.

Papier se besluit is ’n gevoelige slag vir die WP omdat die Kapenaars nog na ’n plaasvervanger vir Dewaldt Duvenage soek. Hulle het Papier nie te lank gelede nie selfs vir ’n blitsbesoek na Kaapstad gevlieg. Dit was tevergeefs.

Die 21-jarige Papier onderstreep met sy besluit hy skram nie weg van ’n uitdaging nie, want in Pretoria is sy pad na die beginspan waarskynlik met meer duwweltjies as in die Kaap besaai.

Hy en Ivan van Zyl, ’n mede-Bok, ding om die Bulle se nr. 9-trui mee. André Warner, wat nie onderskat moet word nie, is ook daar.

In die Kaap bied die ervare Jano Vermaak en Justin Phillips sy vernaamste teenstand. Papier besef egter as hy toetsrugby wil speel, moet hy die bestes uitstof.

Papier se boesemvriend, die heelagter Warrick Gelant, het nog nie finaal besluit of sy heil by die WP of die Bulle lê nie.

Hy is ’n groot aanhanger van John Mitchell.

Die onsekerheid oor Mitchell se toekoms en sy moontlike plaasvervanger het ’n invloed op Gelant se besluit.

Soos Papier, is Gelant baie gelukkig in Pretoria.

As hy ook besluit om te bly, kan die telbord aanrol na Blou Bulle 3, WP 0.

Die WP en Blou Bulle stel albei ook in Schalk Brits belang.

Die Bok-haker moet nog ’n finale besluit neem oor waar hy sy rugby gaan speel.

Dit kan selfs by ’n oorsese klubspan wees.

  • Die Bulle het intussen daarin geslaag om die vaskopstut Conraad (Beertjie) van Vuuren se kontrak te verleng.

Die Leeus het met hom as ’n moontlike plaasvervanger vir Ruan Dreyer onderhandel.

Van Vuuren het uiteindelik besluit om ’n nuwe tweejaarkontrak met die Bulle te sluit.

Die Leeus stel glo steeds in die Bulle se haker, Jan-Henning Campher, belang.

Hy was Vrydagaand een van die plaasvervangers in die Blou Bulle se Curriebeker-kragmeting met die Vrystaat.

  • Ná marathon-onderhandelings tussen die Leeus, Lionel Mapoe en Elton Jantjies is die twee Bokke oorgehaal om in die Goudstad te bly.

Jantjies het in ’n stadium onder meer ’n aanloklike aanbod van die Franse klubspan Perpignan oorweeg. Hy en Mapoe het hul kontrakte met ’n jaar by die Leeus verleng.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.