Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle bevestig Rassie gaan hulle help

Rassie Erasmus en sy bestuurspan gaan die Bulle bystaan tydens hul voorseisoense voorbereiding vir volgende jaar se Superrugby-reeks.

Rassie Erasmus. Foto: Gallo Images

Xander Janse van Rensburg, die Bulle se hoëprestasiebestuurder, het Donderdag by Loftus Versfeld bevestig Erasmus sal in ’n raadgewende hoedanigheid by die Bulle betrokke wees terwyl dié unie die geskikte kandidaat soek om John Mitchell se skoene as hoofafrigter vol te staan.

Mitchell het hom ná die Superrugby-reeks as verdedigingsafrigter by Engeland aangesluit.

Die Bulle se Curriebeker-afrigter, Pote Human, neem intussen waar as hoofafrigter.

“Ons sal binnekort ’n aankondiging doen oor die afrigter vir die 2019-seisoen. Op die oomblik sal die Curriebeker-afrigtingspan van Pote, John-Williams Meyer en Hayden Groepes waarneem as die oefengroep se afrigters,” het Janse van Rensburg by ’n nuuskonferensie gesê.

Daar was vroeër bespiegelinge dat Erasmus, die Bok-breier en die Suid-Afrikaane Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, die Bulle in die Super-reeks kan brei.

Volgens Janse van Rensburg is Erasmus nie ’n kandidaat vir die hoofafrigterspos nie, maar sal hy die span wel bystaan.

Hy sal help met die oorgangsperiode voordat ons ’n nuwe afrigter aanstel, hy sal help om leiding te gee en help dat ons op die regte pad is.
Xander Janse van Rensburg

“Rassie en sy bestuurspan sal ons bystaan in ’n raadgewende hoedanigheid. Hulle het dit reeds gedoen met ons voorseisoense beplanning en hulle sal weer ná die jaareindtoer help.

“Hy sal help met die oorgangsperiode voordat ons ’n nuwe afrigter aanstel, hy sal help om leiding te gee en help dat ons op die regte pad is,” sê Janse van Rensburg.

Op die vraag of daar weer ’n buitelandse afrigter, soos Mitchell, oorweeg word, het Janse van Rensburg slegs gesê die Bulle het hul net wyd gespan.

Dit wil ook voorkom of Schalk Brits hom nou wel by die Bulle gaan aansluit.

Xander Janse van Rensburg, die Bulle se hoëprestasiebestuurder. Foto: Michael Hammond

“Ons sal binne die volgende paar dae ’n aankondiging doen, maar die kans is baie goed dat hy hom by ons gaan aansluit vir die Superrugby-seisoen van 2019.

“Die proses het onder John (Mitchell) begin dat ons besluit het om ’n sterk, ervare ruggraat vir die span te kry.

“Schalk was een van die spelers wat ons geïdentifiseer het.”

Die Bulle het verlede week ondersteuners se oë laat rek toe hulle die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks gekontrakteer het.

Hendricks het die laaste paar jaar met ’n hartkwaal gesukkel en drie jaar laas beroepsrugby gespeel. Hy het vroeër reeds by die Bulle gaan aanklop vir ’n kontrak, maar dié unie wou toe nie die risiko aangaan om hom te kontrakteer en dan aanspreeklik te wees indien hy iets oorkom op die veld nie.

Janse van Rensburg sê twee vooraanstaande hartspesialiste het Hendricks mediese klaring gegee om te speel. Hy wou nie oor enige besonderhede van dié vleuel se kontrak uitwei nie.

Hy sê ook die Bulle is steeds in gesprekke met moontlike aanwinste in sleutelposisies.

Stut is veral een posisie waar die diepte op Loftus maar min is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.