Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle bly oor sege, maar harde werk lê voor

Allesbehalwe die Bulle se beste vertoning sover die seisoen, maar steeds darem ’n bonuspunt-sege.

Die Bulle-slot RG Snyman het Saterdag teen die Reds gespeel asof hy die hele seisoen al op dreef is. Dit was sy eerste wedstryd vanjaar in die Superreeks nadat hy vroeër die jaar ’n enkeloperasie gehad het. Foto: Gallo Images

Dit was Saterdagaand die sentiment in die Bulle-kamp nadat die Reds met 17-32 in die Superreeks op Loftus Versfeld verslaan is.

Die Bulle is met die oorwinning terug boaan die puntelys in die Suid-Afrikaanse konferensie met die kompetisie nou by die halfpadmerk.

“Ek is net bly dat die ouens so kon terugkom ná verlede week se teleurstelling (teen die Jaguares). Ons het dit nodig gehad, maar weet ook daar is baie om aan te werk,” het Pote Human, die Bulle se hoofafrigter, gesê.

Die tuisspan het Saterdag in die tweede helfte ’n goeie skoot déjà vu gekry toe die Reds-kaptein, Samu Kerevi, sy eerste van twee drieë gedruk het.

Dit het die Bulle se voorsprong tot 20-10 laat krimp – dieselfde telling as ’n week gelede teen die Jaguares.

Die Argentynse span het eindelik met 22-20 geseëvier nadat die Bulle die kluts kwytgeraak het.

Saterdag het die tuisspan die pas versnel en die uitslag bo alle twyfel geplaas met die drieë van Hanro Liebenberg en Jade Stighling.

Handré Pollard, kaptein van die Bulle, het gesê hy het gevoel sy span was regdeur in beheer.

“Dit was net ’n kwessie van afronding. Gelukkig kon ons geduldig bly en daarna twee keer gaan druk.”

Die Bokslot RG Snyman was voortreflik in sy eerste wedstryd vanjaar in die reeks.

Human was baie beïndruk met dié ou grote se bydrae.

Hy is gevra of Snyman die leemte kan vul wat die aanvanklike kaptein, Lood de Jager, weens sy langtermyn-skouerbesering gelaat het.

“Albei is ongelooflike spelers. RG het Saterdag gewys hy is net so goed, indien nie beter nie.

“As hy lekker fiks kan raak en hierop voortbou, moet hy ’n seker keuse vir die Springbokke wees.”

Die Bulle het die komende naweek ’n loslootjie. Die vorige keer wat hulle dié blaaskans gehad het, is dit opgevolg met ’n droewige vertoning teen die Chiefs op Loftus.

Die Bulle se Springbokke is tot Dinsdag by ’n nasionale oefenkamp en die ander spelers gaan ’n ruskans kry, het Human gesê

“Ons het ná volgende naweek agt wedstryde agtereenvolgens en ek glo ons het geleer uit die vorige loslootjie.

“Die volgende wedstryd is op Nuweland teen die Stormers en die manne gaan beslis baie motivering hê vir daardie wedstryd.”

Soos sake staan, sal die haker Corniel Els hom die week by die Pumas in Mbombela (Nelspruit) aansluit.

Met Schalk Brits wat geskors is en Edgar Marutlulle wat nog beseer is, sal Human waarskynlik die Tuks-haker Johan Grobbelaar ná die Varsitybeker-eindstryd ontbied.

Puntemakers

Bulle 32 (13). Drieë: Lizo Gqoboka, Marco van Staden, Handré Pollard, Hanro Liebenberg, Jade Stighling. Strafdoel: Pollard. Doelskoppe: Pollard (2).

Reds 17 (3). Drieë: Samu Kerevi (2). Strafdoel: Bryce Hegarty. Doelskoppe: Hegarty (2).

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Bulle  |  Superreeks  |  Reds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.