Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle ‘fokus nie op onsekerheid’ oor Europa

Die Suid-Afrikaanse franchises se deelname aan die Reënboogbeker-kompetisie in Europa lyk taamlik vergesog, maar dit is nie ’n fokuspunt by Loftus Versfeld nie.

Die 34-jarige Jacques van Rooyen was verlede seisoen ’n groot aanwins vir die Bulle. Foto: Gallo Images

In die Bul-kraal word voorberei om die seisoen voort te bou op die wenkultuur wat posgevat het sedert Jake White se koms, sê die Bulle-stut Jacques van Rooyen.

Met die Bulle wat verlede seisoen skoonskip gemaak het op die plaaslike rugbytoneel, gaan die ander spanne met mening vir hulle kom, benadruk hy.

“Ons moet bou op die wenkultuur en dit is waarop ons klem plaas.

“Die ander spanne kom vir jou en as jy nie op jou beste is nie, gaan hulle jou verbyvat.

“Ons kan nie stilstaan nie en het selfondersoek gedoen.”

Jy moet in dié ongewone tye enige wedstryd as jou laaste een beskou. As jy op die veld draf, moet jy besef dit is spesiaal.

Van Rooyen, wat verlede jaar ’n Bul geword het nadat hy by Bath in Engeland gaan draai het, sê die span oefen asof die Reënboogbeker-kompetisie sonder Covid-19-ontwrigting voortgaan.

“Ons berei voor asof ons volgende Saterdag teen die Leeus speel.

“Dit is moeilike tye (weens Covid-19) en dit is net normaal dat daar onsekerheid is, maar ons moet probeer beheer wat ons kan.”

Om oor ’n paar weke in Europa te gaan speel is waarop almal hoop, maar om te speel, ongeag wie die teenstander is, is deesdae ’n voorreg, sê dié voormalige Leeu.

“Niemand weet hoe die toekoms lyk nie en ons kan dalk vir die volgende twee, drie jaar glad nie teen oorsese spanne speel nie.

“Jy moet in dié ongewone tye enige wedstryd as jou laaste een beskou. As jy op die veld draf, moet jy besef dit is spesiaal.

Ons het ná die Curriebeker-reeks hard met mekaar gesels en ons weet dit is ’n afdeling waarin ons moet verbeter, veral as ons later in Europa gaan speel.

“Almal verkies om in Europa te gaan speel en met die nuwe hoofstuk te begin waarop Suid-Afrikaanse rugby besluit het.

“Dit sal natuurlik ’n teleurstelling wees as dit nie kan gebeur nie.”

Van Rooyen sê die skrums is een van die afdelings waar die Bulle in die voorseisoen moue oprol.

Die Bulle was in die Curriebeker-kompetisie nie bestendig genoeg in die skrums nie.

“Ons het ná die Curriebeker-reeks hard met mekaar gesels en ons weet dit is ’n afdeling waarin ons moet verbeter, veral as ons later in Europa gaan speel.

“Die spanne daar is lief vir skrum en hou daarvan om strafskoppe af te dwing.

“Dit kan nie bly by praat in spanvergaderings nie. Al hoe jy jou tekortkominge regstel, is om nog meer te skrum. Jy praat dit nie reg nie, jy skrum dit reg.”

Die Bulle maak Vrydag op Loftus se B-veld litte los teen ’n klubspan van Naka Bulle voordat hulle volgende Saterdag teen die Leeus te staan kom.

Die Stormers en die Haaie skop Suid-Afrika se aanslag in die Reënboogbeker-kompetisie volgende Vrydagaand in die Kaapstad-stadion af (om 19:00).

Die Gautengse derby begin Saterdag om 16:00 op Loftus, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Dinsdag aangekondig.

Meer oor:  Bulle  |  Jacques Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.