’n Vinnige kyk na die Bulle-span en Hawies Fourie sou weet hoe hy sy Cheetahs voor Saterdag se Curriebeker-stryd op Loftus Versfeld kan opsweep.

Embrose Papier laat loop die bal verlede Saterdag teen die Westelike Provinsie op Nuweland. Hy moet teen die Cheetahs die meeste haal uit sy kans in die beginspan. Foto: Gallo Images
Ses veranderings en ’n posisionele skuif wys tot ’n groot mate die Bulle is nie té bekommerd oor die besoekers nie.
Daar is selfs ’n proefneming met ’n skrumskakel op linkervleuel in die Bulle se geledere.
“Dit wys hulle het nie agting vir ons nie,” sou rofweg Fourie se boodskap aan sy spelers wees.
Die Bulle-afrigter, Jake White, het op sy beurt verduidelik dit is nodig om ander kombinasies uit te toets.
Kurt-Lee Arendse is ’n pakkie dinamiet op vleuel, maar wie weet, hy kan dalk nog groter skade op heelagter aanrig.
Stedman Gans en Cornal Hendricks het in ’n kort tydjie in ’n bedrewe senterpaar ontluik, maar wie staan volgende in die ry as daar beserings is?
Marnus Potgieter, wat een van die plaasvervangers is, is bestem vir groot rugby en die Cheetahs sal hulle keer moet ken as hy later in die wedstryd ontplooi word.
Wanneer ons volgende jaar in ’n Pro-reeks speel, moet ons diepte hê en weet wat al die spelers bied.
Jake White
Ander spelers soos Embrose Papier en Sintu Manjezi het sover grotendeels die bank warm gehou en verdien albei ’n kans om te begin.
Dit blyk of Ivan van Zyl ná dese as die voorste skrumskakel by die Bulle beskou word en Papier sal ywerig wees om White tot ander insigte te bring.
White sal gemoedsrus hê dat, afgesien van kontinuïteit wat ingeboet kan word, dit allermins ’n verswakte span is wat hy gekies het.
“Ons moet ons net die een of ander tyd wyer gooi. Wanneer ons volgende jaar in ’n Pro-reeks speel, moet ons diepte hê en weet wat al die spelers bied.
“En ook, hier is regtig talentvolle spelers soos Marnus en Jan-Hendrik Wessels. Dit was my onderneming aan hulle dat hul speelkans sal kry (in die Curriebeker-kompetisie).”
Wessels kan Saterdag teen George Cronjé, wat ’n plaasvervanger vir die Cheetahs is, te staan kom.
Hulle het verlede jaar saam vir Grey-kollege, die Vrystaatse Cravenweekspan en die Suid-Afrikaanse Skolespan uitgedraf.
Die Bulle sal vasberade wees om hul voorsprong op die puntelys op Loftus te vergroot.
’n Bonuspuntsege sal die Bulle (27) ’n buffer gee van agt punte bo die Haaie (24), wat tweede op die puntelys is en die naweek ’n loslootjie het.
Die Cheetahs, die enigste span wat White se Bulle kon troef sedert die seisoen in Oktober hervat is, sal bykomende motivering hê om met ’n sege op Loftus te wys dit was ’n fout om hulle uit die Pro14-reeks te gooi.
Die Vrystaters het juis die laaste twee Curriebeker-wedstryde in Pretoria gewen.
Die groot vraag is of Carl Wegner-hulle in die agttal genoeg spierkrag het om dit te vermag.
Bulle: Kurt-Lee Arendse, David Kriel,
Stedman Gans, Cornal Hendricks, Marco Jansen van Vuren, Morné Steyn,
Embrose Papier, Duane Vermeulen (k), Arno Botha, Marco van Staden, Walt
Steenkamp, Sintu Manjezi, Marcel van der Merwe, Johan Grobbelaar,
Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Jan-Hendrik Wessels,
Trevor Nyakane, Ruan Nortjé, Nizaam Carr, Ivan van Zyl, Chris Smith,
Marnus Potgieter.
Cheetahs: Clayton
Blommetjies, Rhyno Smith, Howard Mnisi, Frans Steyn, Rosko Specman, Tian
Schoeman, Tian Meyer, Jeandré Rudolph, Victor Sekekete, Andisa Ntsila,
Carl Wegner (k), Ian Groenewald, Khutha Mchunu, Reinach Venter, Boan
Venter. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Cameron Dawson, Erich de
Jager, Chris Massyn, George Cronjé, Ruben de Haas, Reinhardt Fortuin,
William Small-Smith.
- Skeidsregter: Jaco Peyper
- Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron, Paul Mente
- TV-skeidsregter: Johan Greeff
- TV: 16:30 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).