Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle, Haaie het baie om te bewys op Loftus

’n Kans om die doemprofete en kritici stil te speel.

Jy kan Saterdagaand se kragmeting in die Unlocked-Superreeks in Pretoria tussen die Bulle en die Haaie só opsom.

Duane Vermeulen, kaptein van die Bulle, kom Saterdag teen Sikhumbuzo Notshe van die Haaie te staan op Loftus. Hier is hy verlede week teen die Cheetahs op die aanval. Foto: Gallo Images

Dit is veilig om te sê nie die Bulle of die Haaie dra tot dusver in die reeks die stempel van ’n kampioenspan nie.

Eintlik is dit, om billik te wees, op al sewe spanne in die kompetisie van toepassing.

Die Bulle het onlangs gespartel om Griekwas op Loftus Versfeld te klop en het verlede naweek teen die Cheetahs vasgeval.

Voor die koronavirus die laaste Superreeks wat in die annale opgeteken sal word in Maart beëindig het, was die Haaie skouspelagtig boaan die puntelys.

Nou sit die afrigter, Sean Everitt, ’n paar maande later met meer as een dilemma – merendeels in die agterlyn.

’n Span wat op een slag die deugde van die Springbokke Makazole Mapimpi, André Esterhuizen en Louis Schreuder verloor het, kan mos nie met dieselfde oortuiging speel nie?

Esterhuizen, wat nou sy salaris by London Harlequins in Engeland verdien, was ’n belangrike faktor in die arsenaal van die Haaie.

Buiten dat hy die Haaie se beste baldraer was, het hy en Lukhanyo Am in ’n gedugte senterpaar ontwikkel.

Schreuder was invloedryk agter die agttal en het die span se aanslag flink en met groot vernuf bestuur.

Sy opvolger, Sanele Nohamba, is vol rugby en ’n buksie met die X-faktor, maar hy is onervare en het nog baie skoolgeld wat betaal moet word.

Die heelagter Aphelele Fassi is boonop nog ’n hele paar weke op die herstelpad ná sy skoueroperasie. Hy het vroeër vanjaar veral indruk gemaak met sy vermoë om teenaanvalle te loods.

Bulle-ondersteuners begin al onderlangs mor dat verlede maand se uitstaande uitstalling van vaart, vaardighede en spierkrag teen die Haaie in die Superfan-wedstryd, ’n voortreflike vloekskoot was.

Jake White, afrigter van die Bulle, het vandeesweek gesê dit het hulle waarskynlik “mislei”.

“Dit was net te maklik (die Bulle het met 49-28 geseëvier) en ons het dalk gedink dit is hoe dit gaan wees.”

Tog glo White sy span het gewys waartoe hy in staat is.

Die Bulle sukkel die afgelope paar seisoene met insinkings en swak afronding en dit steek steeds plek-plek kop uit.

White was duidelik omgekrap oor ’n paar beslissings in Bloemfontein verlede Vrydagaand, maar die besoekers het steeds meer as genoeg kanse gehad om die Cheetahs te troef.

Watter span gaan Saterdagaand die rusbank-kenners op hulle neuse laat kyk?

Spanne

Bulle: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Jason Jenkins, Marcel van der Merwe, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Trevor Nyakane, Sintu Manjezi, Arno Botha, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuren.

Haaie: Manie Libbok, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Werner Kok, Curwin Bosch, Sanele Nohamba, Sikhumbuzo Notshe, Phepsi Buthelezi, James Venter, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Thomas du Toit, Dylan Richardson, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Kerron van Vuuren, Mzamo Majola, John-Hubert Meyer, JJ van der Mescht, Henco Venter, Grant Williams, Jeremy Ward, Yaw Penxe.

Skeidsregter: Jaco Peyper

Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen, Paul Mente

TV-skeidsregter: AJ Jacobs

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby Unlocked  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.