
Walt Steenkamp rank hoog in ’n lynstaan vir die Bulle teen die Westelike Provinsie op Nuweland. Foto: Gallo Images
Daar word by die Bulle duimvas gehou dat ’n hartkwaal nie die slot Walt Steenkamp se loopbaan voortydig gaan kortknip nie.
Steenkamp (25), wat hom aan die einde van verlede jaar by die Bulle aangesluit het, het Donderdag ’n hartoperasie ondergaan.
Daar word as deel van Covid-19-protokolle ’n elektrokardiogram (EKG) op alle spelers gedoen en dit het gewys dat Steenkamp se hart “uit ritme” klop en die sametrekkings nie sterk genoeg is nie.
Steenkamp, een van verskeie Bulle wat die koronavirus onlangs onder lede gehad het, sou saam met Ruan Nortjé die slotpaar gewees het in Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld.
Jake White, afrigter van die Bulle, het met die spanaankondiging gesê Steenkamp het nadat hy Covid-19 gehad het “nog nie 100% herstel nie”.
“Jy kan verstaan, dit is ’n nuwe pandemie en daar is kommer oor sommige spelers en die nagevolge wat die virus kan inhou.
“Ons mediese span is baie proaktief en hulle het gevoel hy is nog nie waar hy moet wees met sy herstel nie.”
Nou word daar gevrees dat dié oud-Puk dalk nie weer op ’n rugbyveld in aksie sal wees nie.
Hy sal oor ’n paar weke weer deur ’n hartspesialis getoets word om vas te stel of die operasie suksesvol was.
Daar sal dan ’n besluit oor sy toekoms geneem word.
Die kans is glo skraal dat, sou hy sy loopbaan kan hervat, hy gou sal terugkeer.
Steenkamp, ’n bul van 122 kg en 2,03 m, het hom onmiddellik in die Bulle-beginspan gevestig nadat hy vroeër ’n staatmaker vir die Cheetahs was.
Hy word as ’n toekomstige Springbok by Loftus beskou by ’n unie wat in die verlede slotte soos Frik du Preez, Louis Moolman, Bakkies Botha, Victor Matfield en RG Snyman opgelewer het.
Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het bevestig daar is kommer oor Steenkamp se gesondheid, maar sê hy kan nie oor sy mediese inligting uitwei nie.