Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle hou asem op oor klubs, skole

Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) verwelkom die aankondiging dat klubs en skole weer na die oefenveld kan terugkeer, maar hou terselfdertyd asem op oor die invloed wat Covid-19 op amateurvlak gaan hê.

Spelers van die Affies se eerste rugbyspan staan in ’n ry ná ’n wedstryd teen Maritzburg College in 2019. Foto: Gallo Images

Klubs en skole het die groen lig gekry om weer met oefeninge te begin, maar dit is onderhewig aan ’n lang lys regulasies waaraan voldoen moet word.

Willem Strauss, president van die BBRU, sê dit sal binnekort duidelik wees hoeveel skade die Covid-19-pandemie die unie se klubs en skole berokken het.

“Almal is verheug en verlig oor die aankondiging, want as ons vir ’n tweede jaar nie kon speel nie, sou dit katastrofies gewees het.

“Dit sou onherstelbare skade aangerig het.”

Strauss sê die Bulle gaan met ’n veldtog begin om deelname aan dié sport te bemark en aan te wakker.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie. Foto: Gallo Images

“Seuns het ander gewoontes aangeleer in die tydperk wat daar nie rugby gespeel is nie en ons weet nie hoeveel van hulle in die proses verlore gegaan het vir die spel nie.

“Ons is ook bekommerd oor die finansiële impak wat Covid-19 op ons klubs en hulle borge gehad het.

“Baie van die klubs in ons streek is afhanklik van munisipaliteite om hul velde te in stand te hou en dit het in die moeilike tye agterweë gebly.”

Strauss sê die daling in spelergetalle in die oorgang van laerskool na hoërskool is kommerwekkend.

Daar is, volgens Strauss, net minder as 38 000 laerskoolseuns wat rugby speel in die streek, maar net sowat 7 400 hoërskoolseuns.

“Skole het byvoorbeeld die laaste dekade ’n dramatiese styging aangemeld van seuns wat begin hokkie speel het.

“Veranderings in demografie en ’n daling in manlike onderwysers by skole het alles ’n invloed op die spel gehad en Covid-19 kan die tendens groter momentum gee.”

Statistieke van die BBRU toon ’n skerp daling in skole wat rugby as ’n sportsoort aanbied die afgelope paar jaar.

Daar was in 2015 altesame 171 laerskole in die streek (Tshwane en Limpopo) wat rugby gespeel het en dit het in 2020 na 99 gedaal.

In die 2015-seisoen alleen het 21 laerskole kennis gegee dat hulle nie meer rugby aanbied nie.

Die neiging word ook onder die hoërskole gesien. In 2015 was daar 103 deelnemende hoërskole en dit het sedertdien na 61 verminder.

Dit beteken net sowat 4% van die sowat 1 500 hoërskole in die Bulle-streek bied rugby aan.

Hennie van Vuuren, die BBRU se Boksmart-bestuurder, sê daar is ’n groot kultuurverandering in skole.

“Ons sien dit ook by ander sportsoorte, maar die afname in rugby is vir ons ’n bekommernis.

“Daar is ’n sameloop van faktore wat ’n rol speel. Die groter fokus wat daar die afgelope paar jaar op harsingskudding is, het waarskynlik al meer ouers laat besluit dat hulle seuns nie moet rugby speel nie.”

Meer oor:  Blou Bulle  |  Covid-19  |  Skole  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.