Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat lol by Loftus?

Dit is amptelik: die Blou Bulle het hul aura in die Curriebeker-kompetisie verloor.

Victor Matfield hou die Curriebeker omhoog nadat die Bulle in 2009 die Vrystaat in die eindstryd op Loftus Versfeld geklop het. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Daar sal lojale Bulle-ondersteuners wees wat swaar sal sluk aan dié stelling.

Tog wys die annale die eens magtige Ligbloues was in 2009 laas die Curriebeker-kampioen.

Dat die Bulle die afgelope dekade net een keer – in 2016 – tot in die eindstryd kon vorder, gaan die verstand te bowe.

Die Pretorianers het boonop daardie jaar met 16-36 teen die Cheetahs verloor. Wat is die wortel van die kwaad by Loftus Versfeld?

* Eerstens, die Bulle se tuisveld staan lank nie meer as Fort Loftus bekend nie.

Dit was vroeër in die Superrugby-kompetisie ook die geval.

’n Besoek aan Loftus was in die verlede nie ’n aangename vooruitsig nie, maar teenstanders kom haal die laaste paar seisoene te maklik punte in die hoofstad.

Die Bulle het die afgelope paar weke in al drie hul tuiswedstryde – teen die Cheetahs, Griekwas en die Haaie – as die verloorder van die veld gestap.

As die Ligbloues iewers vorentoe weer ’n kampioenspan wil wees, sal dié herlewing by die rooibaksteen-stadion in Kirkness-straat moet begin.

Burger Odendaal, die Bulle-kaptein, se besering was ’n gevoelige slag vir die Ligbloues. Foto: Gallo Images

* Die Curriebeker-reeks het gewys dat die Bulle gans te min diepte in sekere posisies het om volgende seisoen ’n faktor te wees in Superrugby.

Die vroeë besering aan die ervare binnesenter en kaptein, Burger Odendaal, was ’n groot terugslag vir die span.

Dylan Sage en Johnny Kotzé het as ’n senterkombinasie nooit ’n groot impak gehad nie.

Dié franchise, wat probeer het om iemand soos Frans Steyn te kontrakteer, kort meer ervaring in die middelveld ná Jesse Kriel gegroet het.

Of Manie Libbok op losskakel die logiese opvolger is vir Handré Pollard, bly ook ’n ope vraag.

* Hoeveel keer moes Pote Human, die hoofafrigter, die seisoen toegee dat sy span “nie opgedaag het nie”.

Dit is natuurlik nie ’n kwaal wat in Suid-Afrikaanse rugby uniek is tot die Bulle nie.

Dit is natuurlik nie lekker om tweede laaste op die puntelys te eindig nie, maar ons is nie te bekommerd nie.
Alfons Meyer

Die Bulle was nietemin weer hopeloos te onbestendig die seisoen.

’n Span wat met soveel onderneming en durf teen die Hurricanes gespeel het in die Superrugby-kwarteindstryd, moes nooit tuis teen die Chiefs of die Jaguares verloor het nie.

Dié neiging is later in die Curriebeker-kompetisie voortgesit.

Om op Loftus slae teen Griekwas te kry, is ’n onverskoonbare vernedering.

Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, was teleurgesteld met sy span se vertonings in die Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

* “Dit is natuurlik nie lekker om tweede laaste op die puntelys te eindig nie, maar ons is nie te bekommerd nie,” sê Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), toe hy oor sy span se swak vertoning gevra is.

“Daar was een baie swak wedstryd, teen Griekwas. Ons het daardie aand sewe drieë laat verlore gaan.

Die talentvolle Johan Grobbelaar kan diep spore trap by Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

“Teen die Leeus het ons met 14 spelers gewen en ons het aan die einde goeie rugby gespeel. Ons o.21’s vaar uitstekend en die uitdaging is om daardie talent so gou moontlik gereed te kry vir Superrugby.

“Ek wil nie sê 2020 gaan ’n boujaar wees nie, want ek haat daardie woord.”

Meyer benadruk dat Human se pos hoegenaamd nie in gedrang is ná die span se Curriebeker-flop nie.

* Daar is steeds baie talent by Loftus.

In die agttal is daar jong manne soos Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima en Ruan Nortjé, wat hope potensiaal het.

Grobbelaar is ’n Springbok in wording en die 22-jarige Matanzima het nie laat groot name hom afskrik in die Superreeks nie.

Nortjé is nie iemand wat sy lyf skaars hou nie en het soos die Bok Franco Mostert ’n groot enjin.

Dit sal egter ’n seisoen of twee wees vir die opkomende sterre om wasdom te bereik in die Bulle-pak.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Alfons Meyer  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.