Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle in al die afdelings swak – Jake

Jake White het, soos Bulle-ondersteuners, Saterdag vergeefs gewag vir die Ligblou-agttal om die skroewe te begin aandraai in die Stadio Comunale di Monigo teen Benetton.

Dit is immers hoe ons die Bulle-pak die laaste paar maande leer ken het en dit word by Loftus Versfeld die “stadige gif” genoem.

Madosh Tambwe, vleuel van die Bulle, het die Ligbloues se enigste drie van die wedstryd gedruk. Foto: Gallo Images

Die Bulle begin gewoonlik in die skrums die oorhand kry en rond met enkele uitsonderings af wanneer hulle vir ’n lynstaan-rolmaal digby die teenstanders se doellyn aantree.

Daar was geen teken van dié fisieke oorheersing in die Reënboogbeker-eindstryd teen ’n beneukte Benetton-voorhoede in Treviso nie.

’n Teleurgestelde White het ná die wedstryd gesê dit was een van daardie dae waar niks reg verloop het nie.

“Jy kan nie een speler of ’n afdeling van ons spel uitsonder waarin ons goed gevaar het nie.

“Ons kon nêrens ons stempel afdruk nie, of dit nou met ons verdediging, in die vaste fasette, op die aanval of by die afbreekpunte was.

“Niks het uitgewerk nie en ons kon nooit druk bou nie. In vorige wedstryde het ons altyd in van die afdelings, of soms in al die fasette, oorheers en was baie meer klinies.”

Jy kan nie een speler of ’n afdeling van ons spel uitsonder waarin ons goed gevaar het nie.
Jake White

Wat was die wortel van die kwaad teen die Italianers?

“Ek sal dit nie kan beantwoord nie. Dit is dalk ’n sameloop van te min ervaring, die hitte en dit was ook die eerste keer wat ons weer voor toeskouers gespeel het.

“Ons het toegelaat dat hulle goed begin, maar toe ons gelyk getrek het (8-8, ná die vleuel Madosh Tambwe se drie), het ek gedink ons kan hulle passie demp.

“Toe het ons twee, drie lelike foute gemaak.”

Die een blaps waarna White verwys het, was sy kaptein, Marcell Coetzee, wat toegelaat het dat die bal met die afskop oor sy kop trek en by die hoekvlag uitrol.

Die Bulle se lynstaanwerk was strykdeur treurig en die slordige besit wat die skrumskakel Ivan van Zyl oomblikke later in sy doelgebied gekry het, het op Corniel Els, haker van Benetton, se drie uitgeloop.

Teen die tyd dat die Bulle besef het daar is moeilikheid, met die tuisspan wat met al hoe meer oorgawe gespeel het, het paniek ingetree.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle, Saterdag in Treviso voor Benetton sy span in die Reënboogbeker-eindstryd afgeransel het. Foto: Getty Images

Toe die Bulle boonop kort voor rustyd (20-8) ’n strafdrie afstaan en die vleuel Stravino Jacobs noodgedwonge moes koers kies paviljoen toe, was dit gedane sake.

White sê sy span sal in die toekoms beter rekenskap moet gee as hulle in ’n soortgelyke situasies kom.

“Ons het vandag gelyk soos ’n onervare span.

“Dit was moeilik om in hul halfgebied te kom en elke keer wanneer ons daar gekom het, het ons besit afgestaan.”

Oor die Bulle se gesukkel in die lynstane het White sy kop geskud.

“Onthou, ons het nog nooit besit op ons doellyn afgestaan in ’n lynstaan nie en ons het nou gesien hoe moeilik dit is om ander spanne en spelers te ontleed.

“Hierdie is nie plaaslike derbies nie, dit is ander rugby hierbo (in die Noordelike Halfrond).”

Puntemakers: Benetton 35 (20). Drieë: Monty Ioane, Corniel Els, strafdrie, Michele Lamaro, Edoardo Padovani. Doelskop: Paolo Garbisi. Strafdoele: Garbisi (2).

Bulle 8 (8). Drie: Madosh Tambwe. Strafdoel: Chris Smith. 

Meer oor:  Treviso  |  Jake White  |  Benetton  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.