Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle karnuffel; Haaie kom druipvin terug

Die Haaie het Saterdag by Loftus Versfeld aangekom as die voorloper in die plaaslike Reënboogbeker-reeks en hulle het later verkas met ’n ontnugtering en kwelvrae oor hul fisieke spel.

Lukhanyo Am, Springbok-senter en kaptein van die Haaie, probeer Saterdag op Loftus Versfeld sy direkte teenstander van die Bulle, Marco Jansen van Vuren, afskud. Foto: Gallo Images

Gooi daarby ’n wankelrige lynstaan en dit is duidelik die Haaie het die komende week ’n regrukplan om aan te skaaf.

Maar Sean Everitt, die besoekers se afrigter, sê hoewel dit ’n teleurstellende poging was teen die Bulle, wat die wedstryd op tuisveld met 43-9 gewen het, moet daar nog baie rugby gespeel word.

“Daar is nog drie wedstryde oor en ons is beslis nie uit die wedloop nie.

“Die Bulle is nou drie punte voor ons en ons moet nog tuis teen hulle speel. Jy gaan seker iewers ’n wedstryd verloor wanneer jy ses Suid-Afrikaanse derbies in ’n ry speel.”

Everitt het nogtans erken hy is mismoedig oor die wyse waarop die Bulle hulle geboelie het in die tweede helfte.

“Ons het geen antwoord daarop gehad nie en ek is regtig teleurgesteld dat ons so oorheers is.

“Gee lof waar dit toekom, die voorspelers van die Bulle was uitstaande ná rustyd.”

Albei afrigters – Everitt en Jake White – het ’n kans gevat in die skrums.

Zak Burger, plaasvervanger-skrumskakel, sak Saterdag op Manie Libbok van die Haaie toe in die spanne se kragmeting in die Reënboogbeker-reeks in Pretoria. Foto: Gallo Images

Die Haaie se Springbok-stutte, Ox Nche en Thomas du Toit, is in die beginspan gekies en Everitt se hoop was daarop dat hulle die Bulle se groentjies, Gerhard Steenekamp en Mornay Smith, sou karnuffel in die skrums.

Hier en daar het die Haaie oorheers in die afdeling, maar dit het nooit regtig op die telbord weerspieël nie.

In die tyd wat Nche en Du Toit in die tweede helfte hulle sit op die plaasvervangersbank gekry het, het White sy Bok-duo, Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane, opgestuur.

Gqoboka was skaars op die veld toe hy oorgeval het vir ’n drie wat die Bulle se voorsprong na 29-9 laat rek het.

En tóé het die Bulle begin baljaar.

Everitt het Gqoboka se drie as die keerpunt beskryf.

“Ons ouens het goed by die plan gehou in die eerste helfte, maar daarna het ons te veel besit afgestaan en foute gemaak.

“Daar was geen geleentheid in die tweede helfte om meer aanvallend te speel nie.

“Ons het te min besit gehad en wanneer ons in ’n goeie posisie gekom het, het ons daardie kanse verlore laat gaan.”

Everitt meen dit is nie nodig om nou na buite die groep (vir oplossings) te kyk nie.

“Jy kan nie die spelers se poging in die eerste helfte bevraagteken nie.

“As jy agtertoe speel en strafskoppe afstaan, gaan dit ’n lang dag op kantoor raak. Ons is ’n trotse span en hét veggees.

“Die onus is nou op ons om volgende Saterdag op ons tuisveld (teen die Stormers) op te staan.”

  • • Puntemakers: Drieë: Lizo Gqoboka, Stravino Jacobs, Schalk Erasmus, Chris Smith. Strafdoele: Morné Steyn (5). Doelskoppe: Steyn, Chris Smith (3). Haaie 9 (9): Strafdoele: Curwin Bosch (3).
Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.