Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle klop WP met 14 man op Nuweland

Dis maar goed vir die Westelike Provinsie se spelers dat Saterdagaand se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Blou Bulle op ’n leë Nuweland gespeel is, want etlike duisende Kapenaars op die paviljoene sou hulle luidkeels uitgejou en dalk selfs met nartjies bestook het.

Marco Jansen van Vuren druk die Blou Bulle se derde en laaste drie. Foto: Jaco Marais

Die Streeptruie het die laaste 33 minute die luuksheid gehad om met een speler meer as die Bulle te speel ná ’n omstrede rooikaart aan Jacques van Rooyen, maar dit was die besoekers wat sterker geëindig het. Die Bulle het met 22-20 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Toe die kaart uitkom – vir ’n skouerloop op Warrick Gelant – was die Bulle met 8-10 agter. Sake het beroerd gelyk toe Angelo Davids boonop ’n drie afrond wat aan die WP ’n voorsprong van 15-8 besorg het.

Maar dis net mooi hier waar die Bulle die karakter van ’n kampioenspan openbaar het. Hulle het die WP knaend onder druk gehad en dit was welverdiend toe Kurt-Lee Arendse sy tweede drie van die wedstryd afrond.

Daar was baie dringendheid by die WP ná Arendse se gelykmaker en Ernst van Rhyn het ’n pragdrie afgerond. Maar daar was nie keer aan die Bulle nie. Hulle het die bal deur talle fases geneem voordat Chris Smith vir Marco Jansen van Vuren met ’n dwarsskop gevind het vir die wendrie.

Smith het verdoel en die WP kon nie in die oorblywende twee minute die kastaiings uit die vuur krap nie.

Ironies was die WP eintlik die beter span voor Van Rooyen se vertrek. Die Kapenaars was in die eerste helfte baie beter daaraan toe wat balbesit en veldgebied betref, maar het gesukkel om hul weg deur die Bulle se puik verdediging te vind.

Juarno Augustus het egter met ’n bietjie meer as ’n halfuur verstreke die drie afgerond wat die WP verdien het. Dit was ná fase op fase met die Bulle wat hul lyn aggressief verdedig het.

Die Bulle was vroeg in die wedstryd eerste op die telbord met ’n drie deur Arendse nadat Cornal Hendricks ’n bres geslaan het.

Maar vir die res van die helfte het die WP omtrent al die speelwerk gedoen. Die Bulle het aanvanklik sterk in die skrums gestaan, maar dit het nie lank geneem voordat die WP se voorry van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe hul gesag begin afdwing het nie.

Die WP is egter gekortwiek deur hul onvermoë om geleenthede in punte te omskep. ’n Mens kan begrip hê vir die strafdoel wat Damian Willemse van 47 m af verbrou het, maar nie vir die een naby die pale nie.

Smith, die Bulle se losskakel, het self aanvanklik skeef gekorrel, maar die groot oomblikke aan die einde omarm.

Was dit nie vir die feit dat die Bulle gewen het nie, sou Van Rooyen se rooikaart ’n groot gesprekspunt gewees het. Rasta Rasivhenge, die TV-skeidsregter, het ’n geelkaart aanbeveel, maar die blaser, AJ Jacobs, het sy eie kop gevolg.

Uiteindelik sal daardie voorval die sege vir die Bulle net lekkerder maak. Om die WP op enige dag op Nuweland te klop, wil gedoen wees en voor hierdie wedstryd kon die Bulle dit laas in 2009 vermag.

Om dit met 14 spelers te doen, is ’n uitsonderlike poging.

Puntemakers:

Bulle 22 (5): Drieë: Kurt-Lee Arendse (2), Marco Jansen van Vuren. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafdoel: Smith.

WP 20 (10): Drieë: Juarno Augustus. Angelo Davids, Ernst van Rhyn. Doelskop: Damian Willemse. Strafdoel: Willemse.

Meer oor:  Wp  |  Bulle  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.