Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle kyk verder as eindstryd op leë Loftus

Saterdag se Curriebeker-eindstryd is nie die eindbestemming nie, dit is die volgende trappie, sê Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM).

Dit is heel ironies ná verskeie sukkelseisoene die Bulle se lot: Hulle speel vir die eerste keer in 11 jaar gasheer vir ’n Curriebeker-eindstryd en daar word weens Covid-19-beperkings geen toeskouers toegelaat nie.

Bryan Habana soen die Curriebeker nadat die Blou Bulle die Cheetahs in 2009 in die eindstryd in ’n volgepakte Loftus Versfeld geklop het. Daar sal komende Saterdag geen toeskouers wees wanneer die Bulle en die Haaie mekaar aandurf nie. Foto: Gallo Images

Die BBM sou ook die afgelope naweek ’n lekker finansiële inspuiting gekry het toe die halfeindstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld beslis is.

“Ons beskou dit eerder as ’n boerdery waar ons nou saai om later die vrugte te pluk.

“Dit gaan nie net oor Saterdag nie, maar ook oor ons visie vir die span die volgende paar seisoene.”

Rathbone sê dit is steeds ’n “groot pluspunt” om tuis in die eindstryd te speel.

“Dit gee vir ons borge en vennote goeie waarde en as ons kan wen, sal dit wonderlik wees om die 2021-seisoen as die Superrugby- en Curriebeker-kampioene in te gaan.”

Die Bulle het in die eerste seisoen onder Jake White die verwagtinge oortref, sê Rathbone.

“As jy agt maande terug vir mense vertel het die Bulle speel Saterdag in die eindstryd, sou min jou geglo het.

“Dit sal ’n belangrike mylpaal wees as ons die beker kan wen, maar daar is ’n veel groter prentjie.”

Ek het in daardie jare in goeie spanne gespeel en jy het maar ’n mate van geluk ook nodig.
Thys Lourens

Die Bulle het in 2019 skandes gemaak in die Curriebeker-kompetisie onder Pote Human se breierskap toe hulle sesde (uit sewe spanne) op die puntelys geëindig het.

Hulle het al drie tuiswedstryde op Loftus verloor, wat ’n nederlaag van 15-37 teen Griekwas ingesluit het.

’n Oud-kaptein van die voormalige Noord-Transvaal, Thys Lourens, spot die Bulle het in die vorige millennium laas in ’n eindstryd op Loftus gespeel.

“Ek is al stokoud gewag, maar ek hoop hulle kan die ding doen Saterdag,” sê die 77-jarige ysterman van weleer.

Lourens het van 1968 tot 1978 in agt Curriebeker-eindstryde gespeel en was nie een keer aan die verloorkant nie (die beker is in 1971 met Transvaal gedeel).

So, wat is die groot geheim om eindstryde te wen?

“Ek het in daardie jare in goeie spanne gespeel en jy het maar ’n mate van geluk ook nodig. Jy moet die druk, wat uniek is in ’n eindstryd, die beste kan hanteer.”

Lourens sê dit is ’n vreemde gedagte dat daar geen toeskouers by ’n Curriebeker-eindstryd toegelaat word nie.

“Jong, en ek sê dit heeltemal tong in die kies, die Bulle is darem gewoond daaraan om in ’n leë Loftus te speel.

“Nee, dit is ’n aardige affêre. Dit is soos om teen iemand veerpyltjies te speel en dit is net jy en hy.”

Meer oor:  Edgar Rathbone  |  Bulle  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.