Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle laat Pote glimlag met goeie afronding

Verbroude kanse was die afgelope paar seisoene ’n gereelde achilleshiel vir die Bulle, maar kliniese afronding was die hoofkenmerk waarmee hulle Vrydagaand die Pumas met 39-29 getroef het in die Curriebeker-kompetisie.

Jano Venter duik oor die doellyn vir een van die Bulle se ses drieë teen die Pumas. Foto: Gallo Images

Die Ligbloues was feitlik deurgaans in beheer op Loftus Versfeld en het met dié vertoning seker gemaak hulle sal volgende maand een van die spanne in die halfeindronde wees.

Daar was in die eerste helfte ’n tydperk waar die Laevelders die Bulle se voorsprong in die bestek van ses minute met twee drieë van lynstaan-rolmale na twee punte (19-17) laat krimp het.

Die Bulle het hulself daarna in vyfde rat gedruk en het hier teen die einde baljaar met ál meer gapings wat op die voordeellyn opgeduik het.

Bedenklike verdediging is tot dusver op enkele uitsondering ’n probleem in die reeks en die spanne het tussen hulle tien drieë deurgelaat.

Daar was in die proses ’n paar aanskoulike vyfpunters. Die drie wat die Pumas se buitesenter, Neil Maritz, in die tweede helfte gaan druk het, behoort aan die einde van die seisoen sonder twyfel een van die Drie van die Jaar-kandidate te wees.

Die Bulle het die vyf ekstra punte op die puntelys baie nodig gehad ná ’n paar louwarm pogings.

Ná Griekwas hulle verlede week in Kimberley die skrik op die lyf gejaag het, het Jimmy Stonehouse se Pumas met ’n goeie skoot selfvertroue aangetree.

Die Pumas het hul oomblikke gehad en iemand soos die slot Le Roux Roets en die immergroen baljagter-flank Marnus Schoeman was ’n handvol voor.

Die een haakplek in die Bulle se mondering is steeds hul dissipline.

Nadat hulle hulle verlede week teen die Griekwas twee geelkaarte op die lyf geloop het, het die Bulle-senter Johnny Kotze Vrydag in die eerste helfte nog ’n gele ingesamel vir ’n roekelose wasgoedlyn-plettervat.

Daar was afgesien van dié vrot kol op die rapport meer as genoeg wat die tuisspan se afrigter, Pote Human, tevrede sou laat.

Die Bulle se agttal was bedrywig en dit was veral die lostrio, Hanro Liebenberg, Nic de Jager en Ruan Steenkamp, wat gewys het hulle is sekerlik die beste kombinasie op Loftus.

Ivan van Zyl, die Bok-skrumskakel, was flink agter die oond en het sy agterlyn met onderskeiding weggestuur, terwyl die heelagter Divan Rossouw weer sy belofte onderstreep het.

Puntemakers 

Blou Bulle 39 (27). Drieë: Hanro Liebenberg, Jade Stighling (2), Dayan van der Westhuizen, Ivan van Zyl, Jano Venter. Strafdoel: Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (3).

Pumas 29 (17). Drieë: Marnus Schoeman, Marko Janse van Rensburg, Neil Maritz, Morné Joubert. Strafdoel: Christopher Smith. Doelskoppe: Smith (3).

Meer oor:  Pumas  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.