Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle, Leeus saam? ‘Dis net praatjies’

Dit is niks anders as braaivleis-praatjies nie.

Só het Altmann Allers, die voorsitter van die Leeus se Rugby-maatskappy en die eienaar van Ellispark-stadion (Bpk), Woensdag gereageer op Nick Mallett, oud-Springbok-afrigter, se voorstel dat die Leeus en die Bulle in een franchise saamgegooi word.

Altmann Allers, die Leeus se finansiële dryfveer, is nie te vinde vir ’n voorstel om die Leeus en Bulle in een span saam te gooi nie. Foto: Gallo Images

“Daar is vir my net geen logika aan nie. Jy kan nie beroepsrugby op sulke sentiment wil bedryf nie. Dit mag dalk haalbaar klink op papier, maar in die praktyk is dit nie iets wat sal werk nie,” sê Allers.

“Ek het baie respek vir Nick en hy is gewis ’n kenner van die spel, maar hierdie is net ’n belaglike voorstel. Ek wil nou maar nie kwaad word vir hom nie, maar voel dit is ’n debat wat nie verder as die braaivleisvure sal kom nie,” sê die man wat die finansiële stukrag agter die Leeus is.

“Jy moet die finansiële en ekonomiese realisme van die spel en die groot unies verstaan. Om so ’n voorstel uit te voer, sal só ontwrigtend op die spelers en almal betrokke by die twee unies wees,” glo Allers.

“Ek voel ons moet ophou om dít wat goed werk in rugby te wil verswak en te wil torring aan dit wat suksesvol is. By albei unies, Leeus en Blou Bulle, word daar hard gewerk om skoon besighede te vestig.”

Allers glo ook daar is geen toekoms vir rugby in ’n sokkerstadion nie,” met Mallett wat reken dat wanneer die Bulle en Leeus saamsmelt, hulle afskeid moet neem van Ellispark en Loftus Versfeld en as een unie in die FNB-stadion naby Soweto gaan speel.

“Dit is belaglik,” sê hy.

“Daardie is ’n sokkerstadion en jy sal dan niks anders as ’n buitestander wees wat net daar gehuisves sal word wanneer dit die sokkerowerhede pas. Ek glo jy kan nog sokker in ’n rugbystadion speel, maar beslis nie andersom nie,” sê hy.

Waar Allers wel met Mallett saamstem, is dat streke soos die Oos-Kaap, Boland en Suidwestelike Distrikte ’n goeie teelaarde is vir die ontwikkeling van rugbyspelers.

“Daarom voel ek daar moet aandag gegee word aan die skole- en semi-beroepstrukture in daardie streke. Die realiteit is egter dat die beste spelers vandaar wegbeweeg wanneer die aanbiedinge van die groter unies kom. Dit is onvermydelik.

“Sou Faf de Klerk en Duanne Vermeulen die spelers geword het wat hulle vandag is as hulle net gebly het by die unie (Pumas) waar hulle grootgeword het?” vra hy.

Kevin de Klerk sê trotse unies soos die Leeus en Bulle kan nooit hul identiteit prysgee nie. Foto: Gallo Images

Nog ’n groot gees in Leeus-rugby, die vorige president van die unie en oud-Springbokslot Kevin de Klerk voel ook Mallett se voorstel verdien niks meer as verwerping nie.

“Ek voel ook op papier klink dit dalk na iets, maar gaan lees die fynskrif en doen jou somme en dan besef jy dit sal nie werk nie.

“Die kombinasie van die Leeus en die Vrystaat om die Cats te vorm in Superrugby jare gelede was ’n mislukking en ’n half. Kultureel was daar soveel verskille en dit sal ook die geval met die Leeus en die Bulle wees.

“Elk van daardie unies het hul eie ryke geskiedenis, met die Leeus s’n wat oor meer as 120 jaar strek. Onder geen omstandighede kan dit werk nie.

“Toe die Leeus ’n aantal jare gelede uit Superrugby geskop is, was daar ook voorstelle dat ons en die Bulle saamsmelt, maar ek het vasgeskop en gesê ek sal dit beslis nie toelaat nie. Die identiteit van albei unies is só sterk dat dit net nooit sou werk nie.

“Wat sal van al die spelers word wat oorbodig verklaar word? Finansieel sal dit ook glad nie werk nie.

“Ek het ook baie respek vir Nick, maar tog voel ek al ons unies moet hul eie identiteit in hierdie tye behou.

“Wat Engelse sokker betref, is ek ’n groot Liverpool-ondersteuner en dink nou net daaraan dat hulle Anfield moet groet om sê voortaan net op Wembley te gaan speel. Net so belaglik is dit om te wil hê die Leeus moet van Ellispark en die Bulle van Loftus afstand doen,” sê De Klerk.

Meer oor:  Leeus  |  Altmann Allers  |  Bulle  |  Superrugby  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.