Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle moes eers ‘ken-mekaar-sessie’ hê
Sango Xamlashe, Tuks se kaptein, voer ook Saterdag die Blou Bulle in die Curriebeker-stryd teen die Westelike Provinsie aan. Foto: Gallo Images

As jy in ag neem dat 44 van die Bulle se spelers nie vir Saterdag se Curriebeker-ontmoeting met die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld oorweeg kon word nie, kan die een wat Donderdag gekies is seker ten beste as ’n C-span bestempel word.

Daar is 28 Bulle in Italië om Saterdag teen Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks te speel, vier is by die Springbokke, twee is by die Blitsbokke, nog vier is beseer en dan is ses jong Turke boonop by die Junior Bokke.

Daar is nege spelers in die groep wat vir Saterdag se stryd voorberei het, wat klubrugby speel en nie ’n Bulle-kontrak het nie.

Die 21 spelers wat hul buiging in die Curriebeker-kompetisie maak, is ook die grootste groep debutante ooit in die beroepsera in ’n span van die Bulle.

Pine Pienaar, waarnemende afrigter van die Curriebeker-Bulle, moes dus Maandag ’n behoorlike ken-mekaar-sessie hou voor hulle kon begin voorberei het.

“Dit gaan daaroor om spelers te beloon wat goeie spel in ons klubrugby en die Varsitybeker-kompetisie gelewer het. “Daar is ook van ons juniors wat ’n kans kry en dit is ’n voorreg vir almal in die span om deel te wees hiervan.

“Dit was belangrik om almal, gegewe die vreemde sameloop van omstandighede, so gou moontlik op dieselfde bladsy te kry.

“Ek is beïndruk met die week se voorbereiding.”

Dit is net die stut Simphiwe Matanzima, wat sy terugkeer maak ná ’n langtermynbesering, en die vleuel Kefentse Mahlo, wat al vir die Bulle Curriebeker-rugby gespeel het.

Mahlo se kontrak met die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het in 2017 verstryk en hy speel sedertdien vir die Naka Bulle in die Carltonbeker-klubkompetisie.

Sango Xamlashe, kaptein en senter van die Tuks se seëvierende Varsitybeker-span, sal die span lei.

Die Bulle kan Saterdag geskiedenis maak as twee stelle broers op dieselfde dag vir twee verskillende Bulle-spanne speel.

Richard Kriel is op heelagter ingesluit, terwyl sy broer, David, later die dag in Italië vir die senior Bulle in die Reënboogbeker-eindstryd sal uitdraf.

Die Blou Bul-losskakel in die Curriebeker-span, Jandré Burger, is die jonger broer van Zak, skrumskakel van die Bulle.

Mhleli Dlamini, ’n man met die byname Big G en Giraffe, is op die plaasvervangersbank gekies.

Jake White, die Bulle-afrigter, het Dlamini in Durban gaan haal waar hy klubrugby gespeel het en moeilikheidmakers uit nagklubs “verwyder” het vir ’n bykomende inkomste.

Dlamini het meer as 150 kg geweeg toe hy aan die begin van die jaar by Loftus Versfeld aangekom het en het sedertdien ’n hele paar kilo’s afgeskud.

White sal veral hoop dat die 23-jarige Matanzima teen die WP sal wys hy is weer sy ou self nadat hy van ’n geskeurde haksening herstel het.

• Blou Bulle: Richard Kriel, Sebastiaan Jobb, Sango Xamlashe (k), Louritz van der Schyff, Kefentse Mahlo, Jandré Burger, Johan Mulder, Jaco Bezuidenhout, Jaco Labuschagne, Henco Beukes, Tiaan de Klerk, JJ Scheepers, Francois Klopper, Werner Fourie, Simphiwe Matanzima. PLAASVERVANGERS (uit): Llewelyn Classen, Dewald Donald, Mhleli Dlamini, Adolph Visser, Eduan Lubbe, Tiaan Fourie, Kabelo Mokoena, Niel Beukes en Uzile Tele.

Meer oor:  Bulle  |  Altus Momberg  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.