Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle moet ingesteldheid verander
Die begin van die einde. Domingo Miotti, plaasvervanger-losskakel van die Jaguares, draf deur vir een van sy twee drieë Saterdag op Loftus Versfeld teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Die Bulle sal ’n ander ingesteldheid moet kry wanneer hulle in die Superreeks teen oorsese spanne speel, waarsku Pote Human, dié span se hoofafrigter.

Daar is ’n duidelike neiging in dié span se vertoningslys in die kompetisie: onoorwonne in vier Suid-Afrikaanse derbies en nul uit drie teen oorsese teenstand, wat twee nederlae op Loftus Versfeld insluit.

Saterdag op Loftus was die Bulle nog in die 73ste minuut met 20-10 voor teen die Jaguares net om minute later met 20-22 as verloorders van die veld af te stap.

Albei drieë deur die plaasvervanger Domingo Miotti – in die 74ste en 76ste minuut – was twyfelagtig, maar die tuisspan het sake vir homself bemoeilik met die geelkaarte vir Tim Agaba en Conraad van Vuuren in dié tydperk.

Twee naweke gelede teen die Chiefs was die Bulle nooit in die wedstryd nie, maar Saterdag se nederlaag teen die Suid-Amerikaners het nuwe betekenis aan die woord wegsmyt gegee.

Die Bulle speel duidelik met groter oorgawe wanneer die Leeus, die Haaie of die Stormers gepak word.

“Dit is ’n probleem en ons het daaroor gepraat verlede week. Daar is besluit dit is nou tyd om teen die oorsese spanne ook op te daag.

Gebeur dit nie, is dit die einde van ons veldtog. Hierdie uitslag is ’n groot teleurstelling en as ons nog in die kompetisie wil bly, sal ons Saterdag teen die Reds vyf punte móét kry.
Pote Human

“Gebeur dit nie, is dit die einde van ons veldtog. Hierdie uitslag is ’n groot teleurstelling en as ons nog in die kompetisie wil bly, sal ons Saterdag teen die Reds vyf punte móét kry.

“Dit gaan ’n ander ingesteldheid verg. Die spelers maak dit persoonlik wanneer ons in ’n plaaslike derby speel, maar jy moet dit teen die ander spanne ook kan doen.

“As jy vir Suid-Afrika wil speel, moet jy teen oorsese spanne kan presteer,” sê Human.

Hoewel hy duidelik teleurgesteld en omgekrap was met die vertoning, was daar enkele individuele vertonings wat hom hoop gegee het.

“Lizo Gqoboka was briljant en hy moet baie na aan Rassie (Erasmus) se planne wees. Burger Odendaal was self baie goed.

“Ons het goed geskrum en het ’n paar keer sterk gerolmaal, maar die afronding het ontbreek.”

Daar sal die week weer ’n hele paar veranderings aan die span wees.

Die Bulle was Saterdag op slot sonder Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins. Die belowende Zimbabwiër Eli Snyman is ook nou beseer.

Pote Human

Hy het in die eerste helfte sy skouer seergemaak en Human het aangedui dat hy ’n hele paar weke langs die kantlyn kan wees.

Die flank Ruan Steenkamp het boonop weer harsingskudding opgedoen.

“Marco (van Staden) en Roelof (Smit) het darem nou al twee wedstryde gespeel nadat hulle teruggekeer het van hul beserings en RG behoort beskikbaar te wees.

“Daar is darem lig in die tonnel.”

Die Springbokke Handré Pollard en Jesse Kriel, sowel as die blits Rosko Specman, behoort in die agterlyn terug te wees om die Reds te takel.

Meer oor:  Pote Human  |  Rg Snyman  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Jaguares  |  Rugby  |  Superrugby  |  Reds  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.