Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle moet nou ‘soos wenners reageer’

Die volgende paar dae sal baie verklap oor die karakter van die Bulle, sê dr. Henning Gericke, dié span se sportsielkundige.

Die Bulle lyk Saterdagaand verslae nadat die eindfluitjie teen Benetton in Treviso geblaas het. Benetton het die Reënboogbeker teen alle verwagtinge in gewen toe die Bulle oortuigend met 8-35 verslaan is. Foto: Getty Images

Die Bulle kom Vrydagaand teen die Pumas in die Curriebeker-kompetisie te staan, minder as ’n week ná die teleurstellende nederlaag wat hulle die afgelope naweek in Treviso teen Benetton in die Reënboogbeker-eindstryd gely het.

Gericke sê “koelkop, kalmte en vertroue” is in die nadraai nodig in die groep, wat Woensdag weer by Loftus Versfeld laer getrek het.

“Dit is nodig om oorsig te doen en in die proses te erken ons was Saterdag ver benede ons standaard.

“Daar is verskeie redes daarvoor, maar dit is nie nodig om nou daaroor te tob nie. Ons kan ook niks doen aan die kritiek wat na ons kant toe kom nie.

“Geen sportspan waarby ek in die verlede betrokke was, het nie sulke laagtepunte ervaar nie.

“Dit is ’n gegewe, dit gáán gebeur, maar hoe reageer jy daarop? Jy moet soos ’n wenner reageer en die span het die vermoë om dit te doen.”

Dr. Henning Gericke, sielkundige van die Bulle. Foto: Gallo Images

Gericke sê ná die tog terug uit Italië is die week se voorbereiding allesbehalwe ideaal, maar dit kan in die Ligbloues se guns tel.

“Die Pumas is ’n moeilike span en ons sal getoets word.

“Hulle weet ons is nie op ’n goeie plek nie en ons spelers se volwassenheid sal na vore moet kom.

“Dit is dalk goed om so gou weer te speel, maar dit sal ’n uitdaging wees om die spelers sielkundig en fisiek vars te kry ná so ’n groot teleurstelling.

“Ek het al ’n pad met die spelers gestap en hoewel dit die eerste keer is wat ons in die situasie is, weet ek hulle het dit in hulle om met ’n knal terug te kom.”

Die Pumas is op hul beurt vol selfvertroue nadat hulle die Leeus Vrydagaand in die Mbombela-stadion ’n goeie loesing gegee het.

Jake White, afrigter, het ná die nederlaag teen die Italianers gesê een swak wedstryd maak nie van die Bulle ’n swak span nie.

White moet besluit of hy grotendeels gaan hou by die span wat teen Benetton gespeel het en of hy ’n paar sleutelspelers ’n ruskans gaan gee.

Nadat die Westelike Provinsie Saterdag op Loftus oor die Bulle geseëvier het, sal die Curriebeker-kampioen nie ’n opeenvolgende tuiswedstryd wil verloor nie.

Die span word Donderdagmiddag aangewys.

Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), sê die spelers wat na Italië gereis het, is beskikbaar om teen die Pumas te speel.

Daar was nie ’n verpligte kwarantyn ná hul terugkeer nie.

Meer oor:  Jake White  |  Benetton  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.