Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle: ‘Nuwe generasie in ou tradisie’
Embrose Papier, skrumskakel van die Bulle, in die span se nuwe ligblou trui. Foto: Verskaf

Dit is ’n reeks sonder identiteit óf ’n beker wat op die spel is, maar op Loftus Versfeld is dít nie waarop gefokus gaan word wanneer die Bulle Sondag in die voorbereidingsreeks teen die Oostelike Provinsie te staan kom nie.

Wanneer ’n jong en opwindende tuisspan opdraf, sal dit die nuwe generasie in ou tradisie wees – soos die span se afrigter, Jake White, dit stel.

Die Bulle het Vrydag aangekondig dat die span die volgende seisoen of wat in tradisionele ligblou truie sal speel.

In ’n verklaring word gesê die “spesiale blou” is dieselfde skakering van die truie wat die Blou Bulle gedra het toe hulle die Britse en Ierse Leeus in 1997 met 35-30 op Loftus geklop het.

“Ek is ’n tradisionalis, soos julle almal weet. Dit is die eerste keer dat die span in die trui speel en dit is nie ons Springbokke wat in die Curriebeker-eindstryd gespeel het nie, maar die volgende generasie wat daardie voorreg het.

“Ek hoop die kultuur van die Ligbloues spoor hulle aan.

“Dit is nie ’n kompetisie nie, dit is vriendskaplike wedstryde. Daar is ook nie ’n beker nie, maar dit is steeds die Bulle teen die Oostelike Provinsie.

Ons gaan terug na die Bulle se tradisie en om die kultuur van die ou Noord-Transvaal gestand te doen. Dit is belangrik vir ons.
Jake White

“Ons gaan terug na die Bulle se tradisie en om die kultuur van die ou Noord-Transvaal gestand te doen. Dit is belangrik vir ons.”

Daar is net drie Bulle wat verlede maand in die Curriebeker-eindstryd in die beginspan was – David Kriel, Marco Jansen van Vuren en Stravino Jacobs – wat Sondag teen die OP speel.

White het ’n nuwe agttal gekies met die Springbok Nizaam Carr wat die span in die beseerde Duane Vermeulen se afwesigheid lei.

Madosh Tambwe

Met Kurt-Lee Arendse wat terug na die Blitsbokke is, is die aanwins uit Durban, Madosh Tambwe, in die beginspan gekies.

“Ek is baie beïndruk met hom. Hy is ongelooflik vinnig en ek sien daarna uit om met hom te werk,” het White oor Tambwe gesê.

By Loftus word verwag dat die besoekers van die Baai hoogs gemotiveerd sal wees.

“Ons weet, om eerlik te wees, nie wat om te verwag nie. “Daar sal baie van hul spelers wees wat dit as ’n enorme geleentheid sal sien om op die verhoog te kom sodat die groot unies in hul rigting kyk.”

Die Bulle se span is:
David Kriel, Madosh Tambwe, Marnus Potgieter, Marco Jansen van Vuren, Stravino Jacobs, Chris Smith, Embrose Papier, WJ Steenkamp, Tim Agaba, Nizaam Carr (k), Janko Swanepoel, Jan Uys, Mornay Smith, Joe van Zyl en Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Janco Uys, Jan-Hendrik Wessels, Gerhard van der Merwe, Raynard Roets, Uzile Tele, Keagan Johannes, Jandré Burger, Diego Appollis, Reinhardt Ludwig, Werner Gouws en Dawid Kellerman.

 

Meer oor:  Jake White  |  Madosh Tambwe  |  Embrose Papier  |  Port Elizabeth  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.