Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle oorheers Haaie op Loftus Versfeld

Een van die eerste projekte waarmee Jake White ná sy aanstelling weggespring het, was om ’n paar bielies in die Bulle-pak Pretoria toe te lok.

Die Bulle se Travis Ismaiel. Foto: Getty Images

As die Bulle weer ’n krag in Suid-Afrikaanse rugby gaan word, is dit voorlangs waar dié herlewing sy oorsprong sal hê, het die voormalige Springbok-afrigter by meer as een geleentheid voorspel.

Dit was Saterdagaand op Loftus Versfeld juis Duane Vermeulen en sy kollegas in die agttal wat die Haaie tot oorgawe gedwing het in die Unlocked-Superreeks.

Die Bulle was maklik met 41-14 bo nadat ’n gesukkel in die skrums en besit wat hier en daar by die afbreekpunte verlore gegaan het, die tuisspan aanvanklik op die agtervoet gehad het.

Die besoekers het, ondanks die Bulle wat verreweg die meeste besit en gebiedsvoordeel geniet het, belowend begin.

Marcel van der Merwe, die Bulle-vaskopstut, het ná ’n Franse ekskursie van vier seisoene, teruggekeer na Loftus en het vroeër die dag 30 kersies op sy verjaarsdagkoek doodgeblaas.

Sy direkte teenstander, Ox Nche, was duidelik nie in ’n bui vir mooipraatjies en goeie wense nie en het Van der Merwe laat knor in die eerste paar skrums.

Dylan Richardson, die haker van die Haaie, het erg gesukkel met sy ingooie in die lynstane, maar hy was bedrywig by die afbreekpunte en het die Bulle ore aangesit op die grond.

’n Puik dartellopie van Cornal Hendricks, wat op sy sentermaat, Stedman Gans, se drie uitgeloop het, het die Bulle in die 27ste minuut vir die eerste keer laat voorloop (10-6).

Dit was die begin van die Bulle se oortuigende oorheersing.

Die flank Marco van Staden het kort daarna sy eerste van twee drieë gedruk nadat die skrumskakel Ivan van Zyl deur ’n gaping is.

Toe die spanne gaan asem skep, was Vermeulen hulle met 17-9 voor.

Die Haaie se aanslag was uiteindelik maar baie effe en het in die tweede helfte net ’n troosprysdrie deur Richardson tot hul telling gevoeg.

Dit terwyl die Bulle begin baljaar het soos wat die Haaie se verdediging mettertyd begin verbrokkel het.

White sal vorentoe ’n paar moeilike besluite hê. Die jong flank Elrigh Louw is groot, fisiek en ’n bul op die voordeellyn.

Die ervare Bok Juandré Kruger is nog beskikbaar en Walt Steenkamp meld ook eersdaags in Pretoria aan, maar dit sal nie maklik wees om Jason Jenkins en Ruan Nortjé as slotpaar uit die beginspan te skouer nie.

Jenkins is uitstekend op dreef en jy kry nie ’n slot met ’n groter enjin as Nortjé nie.

Op haker het die 21-jarige Joe van Zyl goed gevaar toe hy Johan Grobbelaar vroeg in die wedstryd moes vervang.

Die Bulle het dié vertoning nodig gehad met die ou vyand, die Stormers, wat volgende naweek in die hoofstad kom draai.

Puntemakers:

Bulle 41 (17). Drieë: Stedman Gans (2), Marco van Staden (2), Marco Jansen van Vuren, Embrose Papier. Strafdoel: Morné Steyn. Doelskoppe: Steyn (4).

Haaie 14 (9) Drie: Dylan Richardson. Strafdoele: Curwin Bosch (3).

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby Unlocked  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.