Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle: Pote wil nie kar voor perde inspan
Handré Pollard, Springbok-losskakel en kaptein van die Bulle, staan Woensdagaand die media te woord by Loftus. Foto: Gallo Images

Daar is in die verlede al menige keer klem gelê op hoe klein die marge tussen sukses en mislukking in die Superrugby-reeks kan wees.

Soms is dit ’n span wat sentimeters van die doellyn af was in ’n bepalende wedstryd. Of ’n stelskop wat die paal getref het toe speeltyd verstreke was.

Vir die Bulle is dit vanjaar die voorsprong van ’n enkele punt bo die Leeus in die Suid-Afrikaanse groep voor die naweek se laaste ronde ligawedstryde.

Handré Pollard, kaptein van die Bulle, sê die span het bloed gesweet op die toer in Australasië om in dié posisie te wees.

“Ons was realisties voordat ons gaan toer het. Jy gaan nie al die wedstryde wen nie en die plan was om agt punte (op die puntelys) te kry.

Maar die veggees en durf waarmee die span in die wedstryd teen die Blues gespeel het, was ongelooflik.
Handré Pollard

“Ons het dit wel op ’n ander manier gekry (met twee gelykop-uitslae), maar die veggees en durf waarmee die span in die wedstryd teen die Blues gespeel het, was ongelooflik.

“En ook verlede week teen die Highlanders. Een punt minder en ons was in ’n heel ander posisie.”

Die permutasies wys die enkele ligapunt wat die Bulle meer as die Leeus op die puntelys het, het meegebring dat hulle nie laer as die agtste plek op die puntelys kan eindig nie.

Daarteenoor kan die Leeus, sou hulle verloor, negende eindig en geen sê meer in die kompetisie hê nie.

Die Leeus sal egter voor Saterdag se afskop presies weet wat hulle te doen staan om die kwarteindronde te haal.

Pote Human die Bulle se breier.

Sal die Bulle verkies om aanstaande naweek eerder in Canberra teen die Brumbies te speel, pleks van om byvoorbeeld na Wellington te reis vir ’n ontmoeting met die Hurricanes?

“Ons dink beslis nie daaraan nie. Ons gaan voluit om te wen, want dit maak nie saak teen wie jy in die kwarteind speel nie. Dit sal ’n moeilike wegwedstryd wees, ongeag teen wie jy speel,” was Pote Human, afrigter van die Bulle, se antwoord op dié vraag.

“Daar is geen fokus op byvoorbeeld die Hurricanes of die Crusaders nie. Ons wil goed vaar op Loftus.

“Hopelik werk alles so uit dat die eindstryd dalk hier op Loftus is,” sê Human.

Die groot Loftus-afskeid is die week ’n gewilde besprekingspunt.

Pollard en drie manne in die pak – Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg en RG Snyman – draf Saterdag ’n laaste keer op dié heiligdom uit.

“Dit gaan ’n bietjie van ’n emosionele dag vir die ouens wees. Hoewel ons steeds jonk is, is dit die einde van ’n era met baie van die spelers wat nou vir vier of vyf jaar saam is,” sê Pollard.

Die besef was altyd daar dat Saterdag ons laaste wedstryd op Loftus kan wees.
Pote Human

“Ons het nog die hele tyd geweet die seisoen gaan so eindig. Die besef was altyd daar dat Saterdag ons laaste wedstryd op Loftus kan wees.”

* Human het verras deur André Warner bo Ivan van Zyl en Embrose Papier op skrumskakel te kies vir die wedstryd.

“Ons is bevoorreg met drie skitterende skrumskakels. “Enige van hulle kon in die beginspan gewees het, maar ons was van mening dat Warner die regte keuse is,” het Human sy keuse verduidelik.

Meer oor:  Pote Human  |  Handre Pollard  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Afrigter  |  Losskakel  |  Derby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.