Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se agttal te maklik deur WP getem

Die Blou Bulle se voorspelers het ’n afspraak met die skrummasjien ná hul vernedering teen die Westelike Provinsie in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland.

Die senter Johnny Kotze was onder die Blou Bulle se uitblinkers in hul nederlaag van 5-20 teen die Westelike Provinsie op Nuweland Saterdag. Foto: Jaco Marais

“Ons het die wedstryd in die skrums verloor,” het Pote Human, die Bulle se afrigter, ná sy span se nederlaag van 5-20 gesê.

“Daar was geleenthede, maar jy gaan sukkel om wedstryde te wen as jou voorspelers nie oorheers nie. Alle eer aan die WP. Hulle het hul kanse benut en ons moet eenvoudig harder werk.”

Met ’n bietjie meer spierkrag kan die Bulle ’n uiters indrukwekkende span wees. Hulle het baie gevaarlik op die aanval gelyk en veral in die eerste helfte die WP laat bontstaan. Die WP se voorspelers – vernaam die stutte in die skrums – het hom gered.

Human se hoop is nou op sy skrumafrigter, Daan Human, gevestig om te sorg dat die voorspelers Vrydagaand teen die Vrystaat-Cheetahs hul spiere in daardie faset kan bult.

“Daan het in die Superreeks baie uit die spelers gehaal. Ons sal dié week hard daaraan móét werk. Gelukkig ken hy die Cheetahs. Hy kom van daar af. Hopelik sal hy dié week vir ons iets spesiaal kan doen,” sê Human.

Ten einde daardie doelwit te bereik, help die loskopstut Matthys Basson se ernstige skouerbesering beslis nie. Hy sal die res van die Bulle se veldtog misloop.

Daar is ook kommer oor die losvoorspelers Roelof Smit en Wian Vosloo. Smit het ’n hou teen die kop gekry en daar word gevrees dat hy harsingskudding opgedoen het, terwyl Vosloo se ribbes seer is.

Die Bulle se diepte sal dus vandeesweek saam met hul karakter getoets word.

Te oordeel aan die belofte wat hulle op die aanval toon, is daar darem rede tot optimisme.

“Ons speel positiewe rugby. Ons wil ruimte soek en dit aanval. Die spelers moet hulself uitleef,” sê Human.

“Embrose Papier het gewys dat hy baie goed is as hy ’n bietjie ruimte kry. Burger Odendaal en Johnny Kotze het baie goed gespeel. Ek is baie positief oor ons speelstyl. Nou moet ons net sorg dat die voorspelers hul ding kan doen.”

Die Bulle verloor ook nou die Springbok-slot Lood de Jager, wat vir Suid-Afrika in die Rugbykampioenskap gaan speel.

Human erken sy span staan voor ’n enorme uitdaging teen die Cheetahs, wat vanjaar sonder die ontwrigting van een voet in die Pro14-reeks speel.

“Die Cheetahs sal goed voorbereid wees. Franco Smith is ’n baie goeie afrigter. Ons gaan hard moet werk dié week,” sê hy.

Puntemakers:

Westelike Provinsie 20 (5): Drieë: Ruhan Nel, Juarno Augustus, Craig Barry. Doelskop: SP Marais. Strafdoel: Marais.

Bulle 5 (5): Drie: Embrose Papier.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

    Meer oor:  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.