Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se Bok Ivan teken by Saracens

Die pond het Suid-Afrikaanse rugby van nóg ’n Springbok beroof.

Die Bulle-skrumskakel Ivan van Zyl het ’n kontrak met die Londense klub Saracens gesluit.

Die Springbok-skrumskakel Ivan van Zyl is verlore vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), sê hoewel die skuif nog nie bevestig is nie, het Van Zyl onlangs aangedui hy wil in Engeland gaan speel.

“Dit is werklik jammer, want Ivan speel baie goeie rugby op die oomblik.

“Natuurlik sal ons nie in sy pad staan as dit wel sy besluit is nie. Saracens het ’n goeie kopie gemaak.”

Dié Engelse klub het die laaste ruk twee senior skrumskakels met toetservaring, Richard Wigglesworth (Leicester Tigers) en Ben Spencer (Bath), verloor.

Die Engelse media berig dat Van Zyl hom reeds voor die einde van die jaar by Sarries gaan aansluit, maar Rathbone sê hy sal nie voor Julie 2021 vrygestel word nie.

Dié oud-Affie het in 2018 in ses toetse gespeel, maar het sedertdien nog nie weer vir die Springbokke gespeel nie.

Hy was ook nie in die prentjie toe ’n Suid-Afrikaanse Groen- en Goud-span in Oktober op Nuweland in ’n nie-amptelike proefwedstryd gespeel het nie.

Sy Bok-spanmaat by die Bulle, Embrose Papier, Sanele Nohamba, Herschel Jantjies en Jaden Hendrikse is gekies, maar Van Zyl is later ontbied as ’n plaasvervanger nadat Hendrikse hom moes onttrek.

Van Zyl het hom die laaste paar weke as die voorste skrumskakel op Loftus Versfeld gevestig en hy gedy onder die voormalige Springbok Fourie du Preez se mentorskap.

Hy sit binnekort ’n lang Suid-Afrikaanse verbintenis met Saracens voort.

Top- Suid-Afrikaanse spelers soos Francois Pienaar, John Smit, Schalk Burger, Neil de Kock, Schalk Brits en Ernst Joubert het oor die jare vir die klub gespeel.

Die Bok-vaskopstut Vincent Koch en Michael Rhodes is in Saracens se huidige groep.

Saracens is uit die Premierliga gerelegeer nadat Premiership Rugby (PR) hom swaar gestraf het omdat hy Engelse rugby se reëls oor salarisperke oortree het.

Dié klub het hom boonop ’n stywe boete van £5,36 miljoen op die lyf geloop.

Meer oor:  Edgar Rathbone  |  Ivan Van Zyl  |  Saracens  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.