Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se CB-hoop hang aan dun draadjie

Twee scenario’s, een doel voor oë.

Die Blou Bulle sal voordat hulle Saterdagaand opdraf om die Haaie op Loftus Versfeld in die Curriebeker-reeks aan te durf, weet of die agterdeur nog oop staan vir ’n uitspeelplek.

Pote Human, hoofafrigter van die Blou Bulle, is hoopvol dat sy span sy beste vir laaste sal hou teen die Haaie. Foto: Gallo Images

As dit teen daardie tyd gedane sake is, sal die tuisspan se fokus verskuif na die stryd om die houtlepel.

Ly die Bulle hulle derde nederlaag in die kompetisie op Loftus en die Haaie doen dit met oortuiging, sal die Ligbloues in die laaste plek op die puntelys eindig.

In kort: die Bulle soek ten alle koste ’n bonuspunt.

Al is dit ook uiteindelik om ’n promosie-relegasie-vooruitsig te vermy.

“Ons weet dit kan dalk ons laaste wedstryd wees, maar ongeag dit, ek wil hê die ouens moet met onderneming en selfvertroue speel.

“Die span was in die kompetisie nog nie naby aan sy beste nie, maar ek weet waartoe hy in staat is,” sê Pote Human, die Bulle se breier.

Die doemprofete sal wil weet hoe ’n span wat die afgelope paar weke regdeur onderpresteer het, nou vonkelwynrugby kan speel.

Op Loftus word daar stilweg gehoop die vasbyt-oorwinning oor die Leeus in Johannesburg twee naweke gelede, was die keerpunt.

“Dit is ook frustrerend, want ons moes nooit in die posisie gewees het nie.”
- Ivan van Zyl

Ivan van Zyl, skrumskakel en kaptein van die Bulle, sê dié onverwagse sege op Ellispark was nodig vir ’n span wat in homself begin twyfel het.

“Dit is ook frustrerend, want ons moes nooit in die posisie gewees het nie.”

Die bonuspunt-vereiste beteken nie noodwendig hardlooprugby nie.

Human het daarop gewys dat vier rolmaaldrieë dieselfde tel as wanneer daar met die agterlyn toegeslaan word.

Daar is twee manne in die voorry – Lizo Gqoboka en Thomas du Toit – wat Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, daarop sal wil wys dat dit ’n fout was om hulle uit die Wêreldbeker-groep te laat.

Die senter André Esterhuizen, wat ook vandeesweek die trekpas uit die Springbok-kamp gekry het, is in die besoekers se middelveld gekies.

Hy gee die Haaie ’n nuwe dimensie op die aanval.

Een ding is ’n gegewe met Esterhuizen: Hy sal sy span oor die voordeellyn kry en die Bulle gaan sy ruimte en momentum moet beperk.

Gebeur dit wel so dat die Bulle hul bekerhoop lewend hou, kan hulle ’n gevaarlike teenstander wees.

Die waarskynlikheid is egter veel groter dat daar vir die eerste keer in die geskiedenis van dié unie ’n dekade sonder die Curriebeker is.

Blou Bulle: Divan Rossouw, Cornal Hendricks, Johnny Kotzé, Dylan Sage, Rosko Specman, Manie Libbok, Ivan van Zyl (k), Tim Agaba, Wian Vosloo, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Andries Ferreira, Wiehahn Herbst, Johan Grobbelaar, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Dayan van der Westhuizen, Conraad van Vuuren, Jean Droste, Ruan Steenkamp, Embrose Papier, Vaughen Isaacs, Stedman Gans.

Haaie: Aphelele Fassi, Kobus van Wyk, Jeremy Ward (m/k), André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, Boeta Chamberlain, Sanele Nohamba, Tera Mtembu (m/k), Jacques Vermeulen, Phepsi Buthelezi, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Dylan Richardson, Mzamo Majola, John-Hubert Meyer, Gideon Koegelenberg, Andisa Ntsila, Cameron Wright, Rhyno Smith, JP Pietersen.

Afskop: 19:30.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge.

Assistent-skeidsregters: Paul Mente, Phumzile Mbewu.

TV-skeidsregter: Johan Greeff.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Ivan Van Zyl  |  Loftus Vers­Feld  |  Curriebeker-Reeks  |  Haaie  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.