Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se CB-opmars kry momentum
Johan Goosen op loop in die Bulle se kragmeting met die Leeus. Foto: Gallo Images

Die Bulle se Curriebeker-opmars het Sondag op Loftus Versfeld met oorgawe momentum gekry toe hulle die Leeus in ’n drieëfees met 40-21 verslaan het.

Ná verlede naweek se goeie sege oor die Suid-Afrikaanse A-span, het die Bulle op hulle tuisveld op die wenpad gebly, ondanks verskeie aanvallende kanse wat hulle verlore laat gaan het.

In ’n tyd wat dit allesbehalwe ’n gegewe is dat wedstryde sal plaasvind, is ’n bonuspunt-wen soos die een goud werd.

Die tuisspan het voor die afskop ’n krisis in die kleine gehad toe die kaptein, Marcell Coetzee, hom vanweë ’n Covid-voorsorgmaatreël aan die span onttrek het.

Sy plaasvervanger, Nizaam Carr, het sedert Vrydag se spanaankondiging ’n skeet opgedoen en Arno Botha, wat nie in die 23-tal was nie, het heel onverwags tot in beginspan bevordering gekry.

Die einste Botha is kort voor rustyd die trekpas vir tien minute gegee toe die skeidsregter, Paul Mente, se geduld opgeraak het met die Ligbloues se swak dissipline.

Dié teëspoed het die Bulle nie ontspoor nie en hulle bonuspunt het reeds voor rustyd gekom toe die skrumskakel Zak Burger by ’n losgemaal op die Leeus se doellyn ’n bres geslaan en omgedraf het pale toe vir sy tweede drie.

Hoewel die Leeus die Bulle onder druk gehad het in die skrums, met veral die kragman Carlu Sadie wat sy spiere gebult het, was die sege nooit in die weegskaal nie.

Met ’n gerieflike voorsprong van 28-14 teen rustyd sou dit altyd ’n steil bult gewees het vir die Leeus.

Vyfpunters in die tweede helfte deur elk van die Kriel-broers, David en Richard, het die wind vir goed uit die besoekers se seile gevat.

Kyk jy na die diepte by Loftus Versfeld, is dit duidelik die Ligbloues sal moeilik onttroon word as kampioen.

Watter span verloor twee Springbok-losvoorspelers en kan steeds ’n ervare Bok soos Botha kies?

Coetzee sal in die volgende wedstryd weer kan speel en die aanwins uit Frankryk, Jacques du Plessis, behoort die teenstanders eersdaags saam met Elrigh Louw op die voordeellyn af te knou.

Buiten die gesonde diepte onder die losmanne, ontluik Ruan Nortjé en Walt Steenkamp in ’n bedrewe slotkombinasie.

Die Leeus gaan meer moet doen om ’n ware aanspraakmaker te wees.

Hulle kan met soveel venyn aanval, maar dit help nie jy gaan druk drie keer en laat dubbel soveel deur nie.

• Puntemakers

Bulle 40 (28). Drieë: Harold Vorster, Zak Burger (2), Johan Grobbelaar, Richard Kriel, David Kriel. Doelskoppe: Johan Goosen (5).

Leeus 21 (14). Drieë: Vincent Tshituka, Courtnall Skosan, Sti Sithole. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).

Meer oor:  Leeus  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.